Ek het vir myself gesê Elanè, jy blok nie hieroor nie… maar nou ja, wie is ek nou?

Ek wil nie, maar ek gaan. Die afgelope naweek was nogal ‘n rustige naweek sonder veel opwinding, net ‘n tyd van slegwees. 

My man is gaaf, help sonder dat ek hoef te “nag” verstaan dat ek moeg is na ‘n week by die werk sonder my persoonlike assitent. Als is net te lekker.

Sondag is ons kerk toe soos die gewoonte, ons maak lekker kos en kuier rustig met wie ookal huidiglik tuis is. Hy sit en gesels met my, is gaaf met die honde en die kat, gaaf met die kinders. Pak skottelgoedwasser uit, dek sommer ook die tafel vir my af. En so poer-poer ons deur die laaste snikke van die naweek.

Netso voor ons in die bed klim sien ek daar is ‘n boodskap van my persoonlike assistent, iets soos ‘n voice clip, ek sê vir my man ag ek gaan nie nou kyk nie, ek is nou wragties nie lus vir die een of ander funny clip waar iemand geforseerd mense aan die lag sit nie.

Wat sal die flippen ouman vir my antwoord?

           Ja, jy is mos te bang om te lag.

Fout… wat bedoel jy te bang om te lag, jou gat man, ek lag! 

Maar jy ken my, pranks doen dit nie, Leon Schuster doen dit nie vir my nie, ek haat slapstick. Mense wat ander doelbewus aan die lag kry is nie vir my nie. Jy weet ek lag, ek lag baie, ek lag vir Bella, ek lag vir Lainey, ek lag vir normale goed.

En hoor jy nou my lied, al jou hardewerk die naweek is tot niet, kapoet, pap, nie in hierdie leeftyd nie, jy het so pas op my battery ge-pee met die opmerking.

       Ag Lovie,  jy weet wat ek bedoel! 

Nee ek weet nie, ek het gehoor ek hou nie daarvan om te lag nie… en ek is nou moerig daaroor. Daar sit jy op jou troon en sê doodernstig, ek hou nie van lag nie??? Waar val jy uit – jy ken my, ek lag, ek is gelukkig maar hierdie geforseerde laggies wat mense soek omdat hulle hansworse is, doen dit nie vir my nie. Ek sit male sonder tal en wroeg saam met jou deur na al Wack Head Simpson se strooi te luister… en as jy mooi gekyk het, ek huil nie jou swaap,  ek lag,  vir sy simpel goed!!! Jy is ‘n sot en moet nie waag om aan my te raak nie. Bella slaap in die middel want ek lag nou glad nie.

En so eindig ‘n naweek waarin die man van die huis hard gewerk het die hele naweek deur,  met ‘n hoopvolle hart dat sy naweek op ‘n hoogtepunt gaan eindig.

En toe, toe vertel hy my ek hou mos nie van lag nie. 

FLUIT-FLUIT nou het ek dit ook van my hart af, stuur maar die rekening in die pos 😘

En so lyk witvoet soek… via whatsapp.


Advertisements