Ek dink my lewe is soos ‘n oop boek, vir enige persoon om te lees, die oomblik wat jy by my voordeur instap.

Niks weggesteek, oopgebreek vir almal om te sien.

Op die beste van tye is dit maar omdat ek dink my storie is mooi, ek het niks om weg te steek nie.

Niks is perfek nie, maar dit is eerlik tot teen die been, en seker baiekeer tot verleentheid van my kinders. Maar ek weet eendag is eendag,  wat hulle dalk, net dalk gaan sê, “dit was rerig lekker om deel van ons ma se storie te wees”

My ma en pa het rerig groot tekortkominge in hierdie lewe gehad met die verslawings duiwel wat homself kom tuismaak het vir solank as wat ek kan onthou. Daar was baie verwyt – maar ek moet sê in my geval is my liefde vir die twee mense gewees, soos die van ‘n hondjie vir sy baas, altyd vol verwagting.  Maar… ek het altyd gesweer ek, ek gaan ‘n beter ouer wees. Tot op ‘n dag wat ek met ‘n groot ontnugtering aan myself moes erken, so eenvoudig is dit nie? TALL ORDER
Wat is ‘n goeie ouer? Dit is vir my ‘n baie relatiewe vraag. Vir my is dit iemand wat hul kinders versorg na die beste van hul vermoëns, wat hulle so na as moontlik liefhet aan onvoorwaardelik, en wat hulle bo als leer om die Here lief te hê. Vandag, of laat ek sê in my vroeë 3o’s, het ek besef dit is wat my ouers wel in hul gebrokenheid gedoen het, met die tools wat hulle tot hul beskikking gehad het. Ja-ja ek kan nou gaan en baie diep delf en vieslike goed ook uithaal, maar ek wil nie.

My ma is op 73 oorlede, vlg my ‘n grusame dood, maar tot half in haar dood het haar vrygewigheid die oorhand gehad, sy het aangedring om vir een van die portiere ‘n pr rand in die hand te stop omdat hy so “goed” was vir haar – oegh, ek mis haar en is oortuig daarvan dat sy by ons Here is. Ek is kwaad vir myself omdat ek eintlik meer betrokke kon wees. Ek kan sweer ek het haar nooit ooit hoor slegpraat van ‘n ander nie.

My pa is so 3 weke terug met keelkanker gediagnoseer en begin vlg week vir 6 weke lank, elke dag bestraling kry en 1 x pw ‘n chemo-drip. Ek was al in my lewe so kwaad vir hom – maar nou voel ek so verskriklik jammer vir hom. Ek weet hy is trots op elkeen van ons, al kom dit somtyds krom uit. Ons is sy nalatenskap aan ‘n wereld wat sê, die Here het Petrus Johannes met ‘n vrou geseën,  saam het hulle 4 kinders, redelike goed gebalanseerde kinders gehad volgens  wereldstandaarde, en daai kinders het altesame 8 kleinkinders vir hom gegee,  en by een van daai kleinkinders het die Here hom met 1 agterkleinkind geseën, wow!! Dit is mos nou ‘n nalatenskap om te weet dat die Here se genade is te groot vir die mens se klein verstand – kyk wat het hy vir ‘n stukkende Petrus Johannes gegee!

En om nou terug te kom na my vroeë 30’s, toe ek besef het my ma veral, was een van die sterkste vrouens wat ek geken het, my ma het wel ‘n siekte gehad wat ‘n vieslike naam het,  my ma was ‘n beroepsvrou in ‘n verkeerde tyd en in ‘n wereld waar mans koning gekraai het, maar my ma was ‘n goeie ma, en as ek net ‘n fraksie van die vrou en ma is wat sy was, sal ek myself op die skouer kan  klop en sê, well done!!!

En dan staan ek in my huis se ingangsportaal,  wat vol van die stories van my lewe is… ek raak stil en sluk aan die knop in my keel as ek weggevoer word deur troufotos teen ‘n muur,  omdat ek besef tyd is so bitter kort en ons mors so maklik daarmee, Here help my om elke kosbare minuut optimaal te benut – ter wille van my eie nalatenskap aan ‘n gebroke wereld!!!

Advertisements