Jou komkommers sal optimaal groei as jy vir hulle Metallica eerder as rustige jazzmusiek speel. Hulle sal ook sappiger en sagter wees as jy hulle in ’n klein “slaapsakkie” laat groei.

Graham Brown, ’n wetenskaplike van die Universiteit van Sydney in Australië het bevind komkommers reageer op eksterne stimulus om groter en sappiger te groei.

Brown het onder meer bevind komkommersade wat na rockmusiek “luister”, het baie groter en meer reguit gegroei en het ’n groener skil gehad as sade wat aan jazz- en klassieke musiek blootgestel is.

Sade wat na jazz moes ‘luister’ het misvormd gegroei.

Graham Brown van die Universiteit van Sydney

Sade wat na jazz moes “luister” het misvormd gegroei. Komkommers wat Beethoven en Bach se klanke gevoer is, het weer gesond, maar stadiger gegroei as dié wat rockmusiek gehoor het.

“Ons weet plante ervaar en reageer op akoestiese energie soos klankgolwe wat hulle deur hare op hul oppervlak voel. Ons het egter nie verwag dat die komkommers so ’n duidelike smaak in musiek sou hê nie. Met dié dat plante wat rockmusiek gehoor het groter kon groei, kon hulle daarom meer fotosinteer,” sê Brown.

Volgens Brown kan die misvormings op die komkommerplante wat jazz moes aanhoor weens die onvoorspelbare ritme van dié genre wees.

“Dit blyk asof die water en voedingstowwe weens dié ritme versteur is,” sê hy.

Brown het ook getoets of komkommers wat in klein “slaapsakke” geplaas is, beter groei.

“Komkommers aan die plante wat in dié sakkies geplaas is, was meer beskut en gemaklik, wat gelei het tot ’n ligter en sagter skil. Die “vleis” van die komkommer was ook soeter as dié van komkommers wat nie in ’n sakkie gegroei het nie.

Verder het hy bevind dat die nederige groen groente ’n gevorderde sintuig ontwikkel om hulle te help groei en hul rankertjies gebruik om te voel en na oppervlaktes uit te reik om veral snags aan vas te hou vir steun. Dit het gelyk of hulle bewus is van hul omgewing en voorwerpe naby hulle kan aanvoel.

Advertisements