Ek en my man was die naweek Kaap toe, ek was met hartseer gevul want ek het my vakansiehuisie opgepak van die afgelope 19jr, die huisie waar ek elke nou en dan my kinders as klein ervaar in my geestesoog, waar hulle gelukkig is, nie omgegee het dat die water in die see duskant vriespunt is nie, kommervry en met lagge uit hul maag. Ek sien nog soveel keer my dogtertjie waar sy uit die yskoue see na my aanhardloop en blou van die koue skree, “al wat ek nou kort is warm sjokolade.” My seun met die kenmerkende visstokkie oor die skouer, opsoek na enige iets wat hy kan vang en gaarmaak en hopelik eet.

My huisie waar ons net die basiese gehad het, weg van al die “white noise” waarmee ons onsself besig hou, geen tv, geen fone net ‘n radio vir musiek want musiek is deel van die lewe. Hope kaart speletjies vir laataand, met my ou dogtertjie wat nou eenmaal net nie kon verloor sonder om ‘n tantrum te gooi nie. Ek wat altyd verloor, en my seun wat sy sussie se siel uittrek omdat sy so slegte verloorder is! Nes my man kan sy nie vat om te verloor nie, die stryd was gewoonlik tussen hulle twee.

En toe… toe word hulle groot en die lewe gebeur met hulle. Hulle kyk ook bietjie anders na my en hul pa as toe.

Ek sien ou omies en tannies wat nie kon wag vir al die vakansiegangers vir so bietjie geselskap nie – hulle wag ons letterlik in, elke jr was daar van die gesigte weg, weg na hul ewige tuiste en so begin my plek dan al hoe vreemder voel, asof dit sy karakter verloor – maar dit bly nogsteeds die lekkerste plek na ‘n lang jr se werk om batterye te gaan herlaai. Die laaste jare was vreemd want my kinders was ook nie meer so gereeld daar nie, dus was ek en my man 100 persent op mekaar aangewese. En elke jr het ons ons agterwerelde gaan afwerk om ‘n jaar se staan af te stof, en te herstel wat herstel nodig gehad het.

Nou moes ek daai huisie leeg gaan maak vir ‘n ander se herinneringe, my en my man se merke gaan toeverf… ek huil in my hart, nog ‘n hoofstuk afgehandel met ‘n nuwe seisoen wat wag, maar ek huil diep binne my van die oomblik wat ek daai papier geteken het waarin ek sê, “done en dusted”, my huis is nou jou huis….

…en vir my was dit ‘n goeie huis,  met mooi herinneringe waar my kinders nog as kindertjies in die mure vasgevang is, met nuwe merke van ‘n kleinkind daarby, en die hartseer van ‘n skoondogter wat besluit het sy soek ‘n ander lewe, en ek huil diep binne my omdat ek weet die lewe is kort, rerig kort, en op die einde is en was  als net ter herinnering en bitterlik onvoorspelbaar.

My man lê en slaap na ‘n hele paar ure se gepakkery en skoonmaak, ek kyk daar waar hy lê, my hart raak week vir hom, want hy het soveel ure se hardewerk daar verrig vir eendag as dit dalk ons “vir altyd plek” gaan wees, hy het so groot gedroom en skielik voel dit of ek hom van een van sy grootste voorregte ontneem het, net omdat ek  voel: hier aftree kan ons nie, ons moet naby hospitale wees as sy hart/gesondheid hom weer in die steek laat… …ek kniel voor hom en ek huil onbevange daar waar hy lê en slaap,  en in my hart sê ek vir hom, my lam, jy het so hard hier gewerk, hoe is dit dat  als voel asof dit in “vain” is.

Sondag trek ek vir die laaste keer my huisie by die see se deur finaal agter my toe, klim agter die stuurwiel in terug lughawe toe, en die snikke skeur deur my, met ‘n sopnat gesig en ‘n stukkende hart neem ek finaal afskeid vir die vlg 171km Kaap toe.

In stilte ry ek en my man elkeen met ons eie herinneringe en in doodse stilte weg van “ons plek”

Dit is en dit was die beste plek ooit,  van die grond af het ons stuk-stuk aan dit gebou en verbeter,  net om die sleutel aan ‘n vlg persoon te oorhandig. Met slegs herinneringe oor ons eie huisie by die see, met ‘n uitsig en rustigheid in sy DNA wat jy nerens anders sal kry nie… Here mag dit asb nie net nog een van die “regrets” op ‘n alreeds baie lang lys vir my wees nie!

Advertisements