Na aanleiding van Bali Drome se soektog na mooi voordeure in verre lande het sy my laat dink aan “my  trekkende voordeur”.

Ek het ‘n voordeur wat asof dit ‘n meubelstuk is, saamtrek. Sodra ons, ons huis in die mark sit is die voorwaarde dat dit sonder voordeur is.

Julle dink seker dat “die” deur ‘n besonderse deur is met die dat dit saamtrek. Nee, dit is sommer net ‘n gewone goedkoop soort deur.

‘n Deur met ‘n storie – die voordeur was die deur van ons 1ste “eie/bank” se huis. My kinders is daar grootgemaak, tot in hul tienerjare. 

Die agterkant van die deur is vol stories, vol groeimerke van jonk tot oud… van my kinders, en ander se kinders. Van my dogter se “babas” (poppe) nefies wat gesmeek het dat ook hul groeimerke elke dan en wan daar gemerk moes wees.

Deur die jare het almal gerek, behalwe ek en my man. Ons is seker bo gemiddeld lank, maar deur die jare het ons beide korter geraak.
Miskien is die rede daarvan swaartekrag, of doodeenvoudig die feit dat die lewe ons seker ook maar ‘n vuishou of twee gegee het. Die res het almal langer geword. (Behalwe die poppe)

Die deur het soveel mense toegelaat in ons lewens. Vandag as ek in retrospek kyk, is ek spyt oor menigte wat wel deur daai deur ons lewens ingestap het. En ook oor sommige  wat ek dalk in ‘n oomblik van waansin toegang geweier het. Ek dank die Vader ook sommer oor die wat weer uitgestap het en nie weer kon inkom nie. Maar terselfdertyd wonder  ek oor die “as” ek maar net sommige wel toegelaat het, watse impak sou hulle nie op my/ons lewens kon hê nie?

Die deur herinner my aan dae wat my kinders klein was, en hulle volle vertroue in ons doen en late gehad het – toe dit wat ons gesê het altyd reg was. Ons kon die kwade uitgesluit het, nes die ding van toegooi onder ‘n enkele kombersie en hulle daarteen beskerm, op ‘n manier. Maar toe word hulle ook groot en ontnugter in die besef dat ons net mens is… somtyds met verwyt in die stem, of ontnugtering in die oog. Albei ewe pynlik vir ons as ouers.

Deesdae is my voordeur my spensdeur, my kleinkind het “carte blanche”, sy merk als wat sy kan op die deur, sy meet haar groei aan die van haar pa en haar tannie, en altyd is sy so bly, want sy is nes tan-tan, wat beslis nie die geval is nie, sy is maar kort, nes haar ma, en tan-tan is rerig bo gemiddeld lank. Maar dit is ok, want dit maak haar gelukkig om soos tan-tan te wees, tan-tan blyk huidiglik die meeste na normaal in ons huis deur die oë van ‘n 8jarige.

Ek staan menigte keer voor daai deur van my, my deur vol stories, my deur wat vertel dat ek deel was, en is van hierdie wereld… my deur sal weer ‘n keer saam trek, ek glo dit sal die laaste trek vir my en my deur wees, die slag Kaap toe, na aftrede toe, weer in die hoedanigheid van spensdeur vir my droomspens. Daarna sal die vlg huiseienaar dit seker maar as brandhout gebruik omrede my deur nie dieselfde storie vir hulle sal inhou, as vir my nie.

Miskien kom daar nog ‘n pr groeimerke by voor dit brandhout word, van my dogter se “eendag kinders” met haar “eendag man” en ‘n 2de vir my seun, wat daaroor droom om ook net 2 van sy eie kinders in ‘n “normale huis” groot te maak, as dit die Heer se wil vir hul lewe is. 

MAAR JA, DIE IS MY DEUR MET ‘N STORIE VAN SY EIE en ek hou van my deur… en my deur trek saam… die enigste ware stukkie sentiment wat ek myself gun. 

Die enigste stukkie van my wat al my stories van hartseer, geluk, ontnugtering, toeklap, oopmaak, inlaat, uitlaat ken,  en tog nooit ooit dit met ‘n enkele siel gedeel het nie -maw my veilige deur… is dalk nie ‘n duur kosbare meesterstuk nie, maar wel myne vanaf die een of ander hardeware se rak, en wat karakter in sy groewe deur die jare gegroei het. 

Advertisements