Vandag het ek by my huis gekom, my tv aangesit op 201, en myself tuisgemaak voor die tv. Iets wat ek nie sommer doen nie.

Ek het vroeg huistoe gekom – ek het na “die” begrafnis gegaan van iemand met wie ek ‘n van deel, en dit is waar dit stop. 

Ek het gesit en tjank asof dit iemand van my hart is. 

Ek het na gesigte gekyk en ‘n innige meegevoel met hulle gehad. Ek het na woorde geluister en met ‘n dankbare hart gedink dat dit darem woorde was wat geuiter is toe “die” persoon nog gelewe het, en is dit nie slegs in memoriam aan hom gesê soos so dikwels nie.

Ek het getjank oor kinders wat sonder hul pa grootword, ek het eers getjank toe ek besef het hierdie kinders is presies netso oud soos wat my man en sy suster was, toe hulle hul pa begrawe het. 

Ek het getjank oor ‘n pa en ma wat hul kind moet begrawe, dit is so verkeerd om, ouers moenie by hul kinders se grafte staan nie. Dit is onnatuurlik.

Ek het getjank oor ‘n vrou wat haar “voorheen lover” en haar kinders se pa moet begrawe. Ek het getjank omdat ‘n spul vreemdes haar wil stenig omdat sy dit durf waag om haar seerkry aan die wereld te wys. En enigsins hartseer ervaar omdat haar kinders se pa oorlede is, en sy vrese het om ‘n rerige enkelouer te moet wees. Sonder om haar/hulle storie te ken, het mense besluit sy is nie geregtig om te huil nie.

En ek het net gesê,  dankie Here dat ek stoksielalleen by “die” begrafnis is, want my getjankery hier voor ‘n tv sou beslis nie goed afgegaan het met die res wat my dak deel nie.

En ek het gewonder, hoekom tjank jy so? – en my sielemens sê: jy tjank, want weereens is jy gekonfronteer met die verganklikheid van die mens, dat ons net vir ‘n vlietende oomblik deel van hierdie prentjie op aarde is,  net om dan te vertrek. Jy tjank oor jy weet wat dit aan diegene wat agterbly doen en bo als tjank jy, omdat jy weet ons, ek en jy, vat als as so vanselfsprekend. Ons neem aan daar moet ‘n môre wees, en dan lewe  ons, ons lewe asof daar ‘n ewigheid voor ons ooplê, waar ons kan regmaak waar ons verbrou het. 

En dit is al waarom ek vandag getjank het!

Advertisements