Elanè sê: My seun maak sy dogtertjie van die ouderdom 4 jaar alleen groot – met die ondersteuning van ons. Hy doen dit goed, sy dogtertjie is nou amper 9 jaar en beslis goed gebalanseerd en aangepas. Al sien sy haar ma dalk op die meeste 1 uur per jaar, het sy hope ander vrouens wat waardetoevoeging tot haar lewe bied.
Alhoewel ek dit wil benadruk dat dit beslis nie die ideaal is nie – gesinseenheid is beslis deurslaggewend in alle verhoudings binne die gesin.
Ek bly glo sy trek nogsteeds aan die kortste end. Veral as ek haar saam met haar maaitjies sien wat in ‘n heel gesin grootword, menende, dit is my pa en my ma, nie myne, joune of ons sin nie, en nog minder as enkelkind met ‘n enkelouer.
MY HART SAL ALTYD SEER WEES VIR MY KLEIN PIERINGOOG MET HAAR BLOU OGIES – vir haar groot verlies van ‘n heel gesin met beide haar ouers onder een dak!!

Dubbel-ouers, ek salueer julle!

“Ek is ’n wat?” vra Dion* met groot verbasing.
Wel, jy maak jou kinders alleen groot, so dan is jy mos ’n dubbel-ouer, sê ek baie verontwaardig omdat hy so geskok lyk.

“Dion, Dion, dubbel-ouer is nie dieselfde as ’n naweekpa of ’n pa wat sy kinders net vakansies sien nie. Ook nie die naweekpa wat voorsitter van die enkelouervereniging word om ’n nuwe vrou te kry nie. Hulle is die juwele van die samelewing wat dapper hul kinders alleen grootmaak,” sê ek.

Die dae van tradisionele gesinne met ’n pa, ’n ma, kinders, troeteldiere en pallisadeheinings is verby.

En, die rol van pa’s in enkelouerverband moet nie onderskat word nie. Dit neem toe en pa’s kry nie altyd die erkenning daarvoor nie.

Maar hoe doen die manne dit? Want is daar nie die geykte uitdrukking dat mans nie meer as een ding op ’n slag kan doen nie?

“Ek en my vrou (skuus, gewese vrou) het saam besluit dat sy eerder vir haar ’n plek nader aan haar werk sal kry en dat ek en die drie dogters in die huis sal aanbly. Die rede was eenvoudig om hulle so min as moontlik te ontwrig,” sê Dion.

“Wow, Daphné ek moet erken dinge is nie vir my so moeilik as wat ek aanvanklik gedink het dit sal wees nie. Dit is eerder dat ek daagliks aanpassings moet maak in my besige werkskedule.

Ek het nog nooit van winkels gehou nie, maar nou word ek gedwing om kruideniersware te koop.

“Ek het die voordeel dat ek vir ’n maatskappy werk waar ek my eie werkure kan bepaal. En, gelukkig is ek al jare by die maatskappy en hulle weet ek kan vertrou word om die werk by die huis in te haal as dit nodig is.

“Ek sal enigiets vir my kinders doen en het my oggend- en middagroetine omgeruil. Ek het gereël dat hulle in die oggend by die skool afgelaai word sodat ek vroeg op kantoor kan wees. Smiddae gaan tel ek hulle op en daarna kan ek in die gimnasium gaan oefen, draf of my ander stokperdjies beoefen. My nuwe skedule beteken ek sien my kinders meer as wat ek sou as hulle by hul ma gebly het.”

Die nadele? “Geen, net tydelike probleme. Ek probeer om vergaderings in die oggend te hou, maar as dit nie anders kan nie, gebruik ek tegnologie soos Skype, want dit is mos dieselfde as wanneer ek die vergadering bywoon.

“Ek het nog nooit van winkels gehou nie, maar nou word ek gedwing om kruideniersware te koop. Die voordeel is dat ek dit geniet om te kook en die dogters ly beslis nie honger nie. Met die huisskoonmaak sukkel ek egter nog ’n bietjie maar ek werk daaraan.

“Ek sal my prinsesse vir niks in die wêreld verruil nie,” sê hy met oë wat blink.

André*, wie se drie seuns al uit die skool is, onthou met heimwee die dae toe hulle net een motor gehad het. Dit het baie fyn beplanning gekos om die seuns met hul uiteenlopende belangstellings en sportaktiwiteite almal betyds op die regte plek te kry. Veral omdat die een seun ’n kranige hokkiespeler is en baie wedstryde landwyd gespeel het.

Daar is dae wat die eensaamheid ’n man onderkry.

Hy sê as die busbestuurders die dag gestaak het, moes hulle al om 04:30 soggens ry sodat hy sy ander seun by Wits kon aflaai en dan die verkeer aandurf na Midrand waar hy in daardie stadium gewerk het.

“Voor my egskeiding was ek baie bekommerd oor hoe ek en die seuns met een salaris sou uitkom. Met goeie beplanning en ’n begroting het ek selfs sommige maande geld oorgehad.

“As ek nou daaraan dink, was ons geldsake die doring in my huwelik se vlees. Sy kon nie met geld werk nie (nie noodwendig haar skuld nie) en ek moes dalk vroeër begin het om die begroting te hanteer,” sê André.

“Vir my was die grootste aanpassing om ná werk by die huis te kom en dan te moet kos kook. Wat aan die begin ’n uitdaging was, het daartoe gelei dat ek vandag ’n gourmet- sjef is wat uit net ’n paar bestanddele ’n heerlike gereg aanmekaar kan slaan. Dankie Food Network! Ek kan nou die beste Italiaanse frikkadelle met fetakaas maak en dalk eendag ’n nuwe Mev. André se hart daarmee verower.

Op ’n ernstige noot – dit is nie maklik nie. Daar is dae wat die eensaamheid ’n man onderkry en wat jy die sagtheid van ’n vrou mis. Maar jou kinders is jou hele lewe en vir hulle sal jy alles opoffer. Wat dit maklik gemaak het was die dissipline. My “ja” was my “ja” en my “nee” was my “nee”. Dit was ononderhandelbaar en daar was geen sprake van ’n toutrekkery tussen twee ouers nie.

Vir Ruan* was die rol van ’n dubbel-ouer ’n “eye opener”.

“Skielik is niks meer dieselfde nie. Jou hele wêreld verander en ek en my seun moes dramatiese aanpassings maak, veral omdat sy ma nie deel van sy lewe wou wees nie.

“Vandag het hulle ’n beter verhouding, maar toe hy klein was, was sy nie deel van sy lewe nie. Gelukkig het my ma en vriendinne die gemis aan ’n vrou in sy lewe gevul. Vandag kan ek trots kyk na die pragtige jong man waarin hy verander het en is ek nie een oomblik spyt oor die goeie opvoeding wat ek hom gegee het nie. ’n Mens kry krag van Bo om jou kind of kinders alleen groot te maak,” sê hy.

Give them a Bell’s. Of nee wag . . . sommer ’n hele boks vol.

Die rolle vervaag

“’n Mens dink altyd dat ’n ma die een is wat kinders móét grootmaak. Maar wat as sy nie kan nie? Sy het dalk nie die finansiële vermoë nie. Sy is dalk oorlede of het spoorloos verdwyn. Dan is die pa noodgedwonge die een wat vir die kinders ma en pa moet speel, sê dr. Caroll Herman, sielkundige en senior dosent aan die Universiteit van Zululand.

“Ons sien ook meer gereeld dat pa’s dit geredelik aandurf en hulle baie goed van hul taak kwyt.”

’n Goeie voorbeeld is die Suid-Afrikaanse rugbyskeidsregter Jonathan Kaplan wat besluit het op surrogaatskap en nou sy babaseun alleen grootmaak.

As Pa dan nou alleen die kinders moet grootmaak, verbrokkel tradisionele geslagsrolle. Die lyne vervaag tussen wat Ma sou doen en wat nou van Pa verwag word. Dit is in mense se aard om veroordelend op te tree en te aanvaar dat pa’s nie ’n koesterende en emosionele rol kan vervul nie. Ons sien daagliks in die praktyk dat dit nie waar is nie, sê Hermann.

“Pa’s word net soos ma’s soms oorweldig deur skooltake, koskook en knope aanwerk. Ek het wel al pa’s gehad wat kom raad vra het oor hoe om oor menstruasie en seks met hul kinders te praat, maar as ’n pa van vroeg af ’n oop verhouding het met sy kind (seun of dogter), kan dié kwessies baie maklik hanteer word. Pa’s kan maar lekker sukkel om dit met seuns ook te bespreek. Vandag weet ons kinders lankal alles omdat hulle dit op skool leer. Hou die gesprekkanale dus eerlik en oop om dit vir die kinders makliker te maak.”

Kinders wat in ’n pa-huishouding grootword, het normaalweg nie enige agterstand in hul opvoeding nie. En, as hulle enigsins probleme ondervind, is dit maar dieselfde kwessies wat in sogenaamde normale gesin sy kop ook sou uitsteek.

Daarom, aan al die pa’s wat ’n rol in hul kinders se lewe speel: “Give them a Bell’s.” Of nee wag . . . sommer ’n hele boks vol.

Advertisements