Ek en “iemand” baie na aan my kan nou eenmaal net nie ooreenkom oor die ding van vergeef nie.

Miskien is sy reg met die vlg stelling, maar die Bybel sê, vergewe 7 x hoeveel keer weet ek nou nie so uit die vuis uit nie. 

Dit is sekerlik reg… maar dit is waar ek nou uitkom by die vergeef ding. Ons moet vergewe soos die Vader ons versoek om te vergewe. Maar as ek dieselfde persoon oor en oor en oor vergewe vir dieselfde “mistykie”… ai,  ek weet darem nie. 

Ek glo in vergifenis, maar ek glo ook vergewe,  beweeg aan en weg van dit wat jy knaend moet vergewe, want waaragtag ‘n mens is mos nou nie so onnosel om jou kop met dieselfde persoon oor, en oor te stamp net omdat die Bybel sê vergewe sodat jy ook die Vader se vergifenis kan ontvang nie?

Of het ek nou die kat aan die stert beet? Vergifenis is goed, maar ek dink as mens iemand oor en oor moet vergewe dan is dit mos nou nie juis gesond om so persoon toe te laat in jou direkte omgewing nie. 

Ek is redelik seker ek sal so keelvol raak vir vergewe dat dit dalk net in haat mag omsit – daarom sal ek vergewe vir ‘n keer of 2 maar “serial forgivenes” is iets wat ek nie sal kan doen nie. As my gesonde verstand my oortuig ek gaan iemand vir dieselfde ou foutjie/indiskressie in die toekoms moet vergewe sal ek eerder vergewe en dan hol… ver weg hol,  voor ek dalkies my siel in die proses verloor vir hierdie fantastiese Bybel beginsel wat vrymaak.

Advertisements