Dit is waarmee ek myself die naweek besig hou. 

Voor julle die wenkbroue lig, dit is ‘n boek en nie “the real thing nie”

Nou wonder julle seker waarom lees ek dit? Wel ek is nuuskierig ek is nie ‘n storiemens nie ek lees meer feitelik en geestelik as stories – maar die mens se psige fassineer my ongelooflik baie. 

Die wat en die waaroms oor hoekom mense sekere keuses maak, persoonlikheidstipes ensovoorts.

Ek verslind enige boek wat oor bg gaan.Die boek bespreek 3 persoonlikheidstipes in redelike detail, daar is gevallestudies as voorbeelde.

  • the narcissistic cheater,
  • the sexual predator, 
  • the romance addict.

In die 1ste foto beskryf die narsissis presies waarop mense op die uitkyk moet wees indien jy dink jy gaan in verhouding met die persoonlikheidstipe. Jy gaan heelwaarskynlik die eensaamste persoon binne in ‘n verhouding wees. 

Die ander twee is nou nie juis veel beter nie – “mind you” is niks beter nie, die een is slegs meer pateties as die ander een. En gee glad nie om oor die aspek dat hulle iewers iemand “cheat” nie hetsy in hul eie verhouding of in verhouding van iemand anders nie. Die mense is redelik gewetenloos as dit by hul eie ek, kom. Tog is daar mense van beide geslagte wat glo hulle kan diesulkes rehabiliteer??

Wat my verstom is die statistiek, ek het nog altyd gedink dat dit meesal net mans is wat so is, nou blyk dit dat daar netso veel vrouens is wat aan bg ly as mans. Vreesaanjaend. Ek dink dit het gekom met die emansipasie van die vrou. Vrouens speel netso hard soos mans, die speelveld is oop en gelyk vir beide geslagte, en beide gaan mal.

Die ironie is dat beide mans en vrouens weet dat geen buite egtelike verhouding die pyn en chaos werd  is nie. Tog kan die skuldige party in hierdie gevalle net nie anders as om so te wees nie. 

Die boek praat nie van ‘n eenmalige “fling” in detail nie, dit is gewoonlik waar mense heel onskuldig betrokke raak en dan pa staan vir die gevolge en dit nooit weer wil doen nie. Hulle word verteer met skuldgevoelens, maar dit maak nie die pyn minder vir die onskuldige party nie en gewoonlik word verhoudings in die geval wel gered.

Wat my stomslaan is dat daar mense is wat in die tipe verhoudings bly, ongeag. Hulle probeer als in hul vermoë om hulle “partner” te keer om dit weer te doen, maw hulle polisieër die ander persoon heeltyd ten koste van hul eie sielevreugde. Ek dink vir my sal moord makliker wees,  of verkieslik net om my rug op die siek situasie te draai. 

Ek dink omdat ek ‘n redelike realis is en nie rerig al die tipe emosionele goed hoog stel nie, maar wel lojaliteit as die enigste gom wat ‘n huwelik blywend maak, maak ek nie sin uit mense wat dink hulle kan stukkende mense heelmaak deur in verhouding met hulle te bly nie – ek voel net jammer vir hulle. 

Ek is al vir baie jare getroud, ek is nie ‘n vreeslik romantiese wese nie, ek is lief met my hele hart, maar sonder al die goed rondom dit wat mense liefde noem. Ek sê maklik ek is lief vir die mense in my lewe, maar my dade is volgens my dit wat die kersie op die koek is. Ek is seker ek mag sê  ek verby lojaal en my verantwoordelikheidsin is beslis deel van my DNA. Ek kan nie goed halfpad doen nie – behalwe naaldwerk, soos die truitjie wat ek begin brei het vir my seun met sy geboorte,  wat nogsteeds breipenne en al,  iewers  in my huis in ‘n kis lê en wag om klaar gebrei te word. Wat ek sterk betwyfel, want my ma wat kon brei is nie meer nie, en sy is die enigste een wat genoeg geduld sou hê om my steek vir steek deur die truitjie sou help sonder ‘n frons.

Terwyl ek so deur die boek lees sien ek verskillende mense van my hart wat betrokke is by sulke mense,  en al wat ek stil-stil doen is deur te bid en vir die Here te vra dat oë betyds sal oopgaan. Want as ek van die “havoc” lees wat sulke persone in mense se lewens bring weet ek dit is nie my wens vir dit wat ek so liefhet. 

Wat ek hou van die boek is dat dit geen buite egtelike verhoudings romantiseer nie. Iets wat die filmbedryf en media tog so graag doen. 

Die boek is eerlik en op die man af, en is rerig een van die boeke wat ek waarlik sal aanbeveel, ongeag of jy al ‘n slagoffer van dit was, of selfs die tipe verhoudings regverdig op welke maniere ookal om jou eie gewete te stil. Lees dit gerus,  ek glo daar is baie navorsing daarin gesit en kan net mense wat in enige tipe verhouding gaan help om oop oë daarin te gaan sonder enige vooropgestelde idee van dat “ek is die persoon wat hom/haar gaan verander” 

Voetnota:-  hulle wil nie verander word nie, hulle is gemaklik in hul vel en met hul leefstyl al herken hulle dat dit absolute chaos in ‘n ander se lewe bring.

Advertisements