Ek staar na jou hier waar jy op die bank aan die slaap geraak het, terwyl jy vir jou pappa wag wat na die kerk se vergadering is.

My hart word gevul met diep deernis en ‘n stille gebed dat die Here se droom met jou lewe in elke faset van jou lewe waar sal word. 

Dat jy altyd mag weet jy is geliefd en dat ek geëerd voel om jou ouma te wees, ongeag die manier waarop jy die wereld ingekom het. Vir my was jy nooit ongewens nie. Nou jok ek, daar was baie hartseer en teleurstelling binne my teenoor jou pa, ek het allerhande aaklige dinge voorgestel, net sodat ek nie aan die wereld moes erken dat my kind is toe ook maar net mens. Dankie dat hy nie na my geluister het nie. 
(Then)

Want die oomblik wat ek my oë op jou neergelê het was ek verlief, was ek klei in die hande van die Vader, juis omdat ek geweet het die pad wat voorlê is ‘n onbekende pad, maar danksy Hom wat jou lank terug reeds gedroom het,  was dit draaglik. Ek het geweet my lewe gaan onheroepelik verander met jou geboorte, en beslis ten goede.

My siel was ontbloot aan die wereld ek kon jou nie wegsteek nie, my pyn/trots was oop en bloot tot voor jou geboorte vir enige persoon om daarmee te maak wat hulle wou, maar die oomblik wat ek jou geruik, gesien en selfs jou smaak in my mond geproe het, het ek geweet dat ek nooit weer sal wees soos wat ek was nie, jou geboorte het van my die eerlikste mens wat ek kan wees kom maak. Geen eiewaan en eie belang en selftrots nie, net jy met die stempel van jou pa so duidelik afgedruk… sodat ek dadelik geweet het dat jy beslis deel van die Here se droom vir my lewe was. Dat selftrots plek gemaak het vir nederigheid en die besliste wete dat kom wat wil ek die pad saam met jou sal deursien solank as wat ek asem het.

My Lainey, ek is lief vir jou my blou pieringoog, mag ons Vader se goedheid en guns vir altyd deel van jou lewe wees en mag jy altyd die mooiste liedjie hoor die oomblik wat jy aan my dink. 

(And now)

Advertisements