Noem my ydel, noem my net wat julle wil maar ek is in totale ontkenning wat my ouderdom betref. 

Waarom, wonder julle seker? Want ek voel dan nog so vrek jonk in my kop en partykeer, net partykeer speel die lyf ook sommer saam, soos die afgelope naweek waar ek uitbundig saam met my familie op die “super tube” gegly het, tot groot vermaak van almal wat my ken en selfs nie ken nie.

Maar ja, dit wat ek saam met my dra en in my mondprop maak dat ek weet ek is nie meer so jonk nie.

Soos oa my bril, ja my bril gee beslis my ouderdom weg. Ek het nog altyd gesweer ek sal nooit ooit my bril om my nek dra nie, ongeag. Wel ek spandeer 50% van my vrye tyd opsoek na my bril wat ek iewers neergesit het. Ek het een waarmee ek in die huis omgaan en dan een in my handsak, vir werk en rekenaarwerk.

Wel die naweek het ek my bril verplaas. Ek het almal in rep en roer gehad oor “die bril”, my dierbare suster is aangesê om die plek waar ons gebly het te bel en te vra dat hulle asb die skoonmakers moet vra of hulle nie die bril gesien het toe hulle skoongemaak het na ons vertrek nie. Want ek kan sweer die bril het daar onder die bed ingeval. So teister ek haar kort-kort.

As ek by die huis kom soek ek ook daar oral waar ek dink dit dalk kan wees. Ek is mismoedig want dit is my nuwe voorskrif bril maar die lense is van so aard dat ek ‘n fortuin daarvoor betaal het, nie om te “brag” nie, maar netso onder die R6000-00 waarvan ons medies
‘n gedeelte betaal het. En ek sal dus eers weer ‘n bril kan kry aan die einde van 2018, as dit dan deur die medies gedeeltelik betaal sal word. My kontantvloei is maar net te beroerd om nou aan bril koop te dink danksy voorlopige belasting, wat betaalbaar is einde Februarie. Dus sal ek maar tevrede moet wees om met die ander ou leesbril oor die weg te kom tot dan. Maar nou oorval die vrees my, wat as ek dit verloor, dan is ek geskroef, wat as, wat as.

Toe my bediende gister kom vra ek haar, asb Gracie, kyk of jy nie my bril iewers sien nie, maar ek weet die bril is by die plek waar ons die naweek was, sê my kop vir my. Wel niks, hoor ek die middag na werk. Toe ek Gracie by die taxi staanplek moet gaan aflaai klim sy in my kar, kyk af en haal ‘n bril tussen die sitplek en die rathefboom uit. “Is die jou bril waarvoor jy so huil?” Gracie waar kry jy dit, dit is my bril en ek loof sommer net daar die Here uit dankbaarheid. Sy kyk my verbaas aan. Ek dink nie sy besef hoe hopeloos ek sonder die ding is nie. En ek dink ek soen jou sommer dadelik! Maar sy koes ook sommer dadelik vir daai soen gedeelte.

Nou ja, vanoggend was my eerste opdrag aan my suster, rooigesig, om die plek van die naweek net te laat ek het my bril gekry, voordat hulle dalk die skoonmakers van diefstal beskuldig.

Ek is gou na Vodacom om my kantoor se datakontrak te gaan bespreek. Met die uitloop daar, stap ek met my kosbare bril in die hand, dadelik dink ek weer hoe bly is ek oor my bril, ek probeer om die ding voor by my hemp in te steek. En net daar betugtig my alter ego my, “sit die ding in jou handsak, dit lyk simpel! Die volgende stap is jy kry ‘n mooie fraaie ou toutjie en dra die ding nes ‘n pragtige halsnoer sodat almal wat jou raakloop onmiddelik weet jy is nie so jonk as wat jy voel nie!” Waarom? Want daar hang ‘n bril om my nek wat ek elke keer moet gryp die oomblik wat ek iets wil lees.

En weet julle maar die volgende, mens kom nie agter hoe baie jy sommer net terloops moet lees voor jy nie meer kan lees  sonder ‘n bril waarna daar kort-kort gegryp moet word.

(maar ek gaan vandag nog vir die huisbril ‘n toutjie kry, en dan bid dat dit nie te vinnig sommer na die “smart voel” bril gaan oorspoel nie…. want ek is dan nog so jonk)

En wat skreeu my alter ego, “liar, liar pants on fire”

Advertisements