Ek praat vandag iets wat my na aan die hart lê en waaroor ek myself nog nooit geuiter het nie.  En sommer dan ook in die algemeen.
Ek wonder of ouers bewus is van die effek wat hul woorde op hul kinders het?

As kind het ek male sonder tal my pa die volgende woorde hoor sê aan mense. (seker maar tong in die kies en gewoonlik met ‘n drankie in die hand)

Sy, dit is nou ek, sal seker nog eendag met ‘n vd Westhuizen  trou, want sy is so lui sy sal nie eens haarself verwerdig om haar van na ‘n nuwe van te verander nie. Die woorde het ek sekerlik gehoor van die ouderdom 4 tot voor my troue en selfs weer op my troue, toe hy iets moes sê. Nodeloos om te sê, ek is toe getroud met ‘n vd Westhuizen, tot groot vermaak van hom. Maar beslis nie van dieselfde stamboom af nie, danksy die predikant wat ons gemaak ondersoek instel na “die boom”. Tot vandag weet ek nie waarom nie,  want ons “moes” trou soos mense graag sê. En die kerk het ons onder die allervreeslikste sensuur geplaas. (Miskien wou die ds. ons voorberei het as die ou babatjie dalkies snaaks sou lyk omdat ons dalk bloedskande gepleeg het.)

Daai woorde van my pa het my so gepynig, want waar ek in die prentjie was kon ek net nooit verstaan hoekom hy dink ek is lui nie, ek het gedoen wat ek moes en op ‘n kinderlike wyse met trots. Luiheid was beslis nie geduld nie. Ons het van baie jongs af gekook, ge-clean en geloop, km’s en km’s skooltoe en terug, sonder om ooit te bank, somer en winter. Op ons eie aandag aan ons tuiswerk gegee, nogal sonder toesig, gekook en gesorg dat als reg is teen die tyd wat my ouers na werk tuisgekom het.

Die naweek het ons my jonger suster se man se 50ste verjaarsdagvieringe gehad deur almal saam weg te gaan vir die naweek. En weer, hier waar ek al redelik gevorderd in jare is, moes ek weer so terloops hoor hoe my pa met my dogter en haar vriendin sit en gesels.
My oor vang wat hy praat en dadelik definieer hy my weereens. Hy vertel vir hulle hoe dankbaar hy vir my man is, en hoe gelukkig hy was toe ek my man die dag raakgeloop het want niemand, maar niemand sou ooit met my opgeskeep kon wees nie. En hy, wat my pa is, sou seker maar op die einde met my moes trou???

Ek luister na hom en soos in ‘n fliek speel jare en jare se woorde teenoor my, voor my af, ongeag of dit tong in die kies uitgespoeg is. Ek kyk na hom en wonder oor dit wat hy so “non chalant” kwytraak. Ek voel in my eer gekrenk by my kind en haar vriendin, ek verwerdig nie eens myself om te reageer nie.

Maar ai, hoe bly is ek dat hy nie die vermoë in hom het om my gedagtes te lees nie, dit sou hom op daai oomblik beslis bang gemaak het. Ek kyk na hom en ongeag sy baie bejaarde ouderdom is daar geen empatie in my hart vir hom op die oomblik nie – en dit oor woorde gespreek.

Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng kan word, word tot op die uiterste beproef. Kinders is lief vir hul ouers, ongeag. Vra my, ek weet van ongeag.

Ek wens net ouers wil weet en glo dat woorde gepraat steek vas soos min dinge kan,  en elke nou en dan word dit deur ‘n oomblik herroep, ongeag ‘n mens se ouderdom. Nogsteeds wonder ek oor die lui-ding, nogsteeds wonder ek oor waarom daar ooit gedink is hoekom ek nie ‘n man waardig sou wees nie. Ek het nog nooit die durf gehad om hom daaroor uit te vra nie, en ek sal ook nooit nie, want wat sal hy my kan antwoord om dit te regverdig? Miskien ‘n, “ag, ek terg jou net” dit sal nie genoeg wees nie.

Wat die duiwel? Ek is tog nie meer ‘n kind nie, my eie volwasse kinders is veronderstel om op te kyk na my,  sonder ‘n ander se definisie van my, en ongeag daai persoon se status in my lewe.

Ek kry seer, ek voel soos altyd in my eer gekrenk en ek bid weer dat ek my woorde sal weeg voor dit by my kinders uitkom. Dit is ‘n soort herinnering wat ek nie wil hê hulle moet kan oproep nie.

Ek dink ouers eien hulself te maklik die reg toe om goed oor hul kinders te spreek sonder om aan die gevolge te dink, gevolge wat vir altyd vassteek.Al is dit dalk net om snaaks te wees.

My motto met my eie is, as dit nie bou nie moenie dit praat nie, as daar nie daaruit geleer word nie is dit waardeloos.

Ek dink veral met vrouekinders moet pa’s eers versigtig wees, ek sien dit met my eie man en ons dogter, sy is baie sensitief vir haar pa se woorde en dade sonder dat hy eens bewus is daarvan. Terwyl my seun baie goed aflag, maak sy dit haar eie. Waarom weet ek nie, ek dink dit is in ons DNA omdat God ons ‘n sensitiewe kant gegee het as dit vir kinders baar kom. Ek dink as ons dit nie gehad het nie was daar al menigte babatjies wat die wereld verlaat het voor hul 1ste lewensjr. Juis omdat dit sekerlik die moeilikste ding is om “sane” te bly sodra daar babas in die spektrum gegooi word.

Ouers, praat woorde wat ewigheidswaarde inhou,  en bedink die res voor dit geuiter word. OF HOU SOMMER NET JOU BEK as jy onseker is!

Advertisements