Soos almal weet is “Die Troue” nou iets van die verlede – maar ek moet nou eers die van my hart afkry en dan hoop ek saam met julle dat ek vir eers klaar is met troues.

My ma sal Februarie 2 jr oorlede wees, mis haar sekerlik elke dag van my lewe, en weet ek, ek het haar hopeloos te min waardeer omdat ek gedink het sy gaan
forever and ever leef, daar is dus genoeg tyd vir die waardering ding oor… toe nou nie, maar dit is ‘n anderdag se prate.

My baie bejaarde pa het vroeg in Nov my gekontak en genoem dat hy vir my wil kom kuier, ek verseker hom hy het altyd ‘n ope uitnodiging en is altyd, maar altyd welkom. 

In dieselfde asem sê hy vir my,  maar ek bring my nuwe vriendin saam. Naiewe ek lag hom openlik uit, en sê vir hom, oor my dooie liggaam sal ek dit toelaat, wat makeer hom? Hy is amper 100, hy het emfiseem en is amper die heeldag op O2, en hy is nogal lief vir sy bottel, ek lieg….baie lief vir sy bottel. Wie sal nou in hom belangstel dink ek by myself, en is vas onder die indruk dat hy my been trek. En SPEEL dus saam.
Nou ja, nodeloos om te sê lig my suster my vroeg Desember in dat pa het ‘n girlfriend. What the hell,
is my reaksie, jy lieg sekerlik vir my? Ek dog hy joke met my, nou verstaan ek sy skielike yskoue stilte teenoor my.

Nee, ons almal weet al lankal maar pa was bang om vir jou te vertel. Ja, hy is maar bang vir my want ek sê maar nog altyd ‘n ding soos hy is, selfs vir hom, maar bygesê, altyd met ‘n goeie skoot respek daarby vir hom.

Sy sê ewe, die tannie is nogal goed vir pa, dit is ‘n grênd ou tannie, sy drink nie, sy kerk, sy biduur, sy Bybelstudie en sy sê sommer reguit vir pa hy mag nie meer as een glasie wyn drink nie, en hy moet hom gedra en dan doen hy.

Wel ek kry nie kans om die tannie te ontmoet nie, ek lag in my mou vir die ouman vir wie ek pa noem, so ou
bugger.



Maar die dag met die troue is dit nou maar so, ek sal die tannietjie ontmoet of ek nou wil of nie. Ons sit almal stil en rustig in die kapel en hier kom my ou pa aangestap na my.

“Elanè, ek wil jou voorstel aan my vriendin!” Geskok draai ek om en
kyk die tannie vierkantig in die oë, ek doen die regte ding deur op te staan en myself aan haar voor te gaan stel, my pa blom en stel ewe trots my aan haar voor as sy oudste dogter. Ek sê die regte woorde en wonder, tannie hierdie is ‘n
wild horse in hoofletters, as jy nou nog nooit een ontmoet het nie.

Terug in my sitplek, draai ek weer om en daar staar ek vir ‘n wyle geskok na haar, draai terug en kry so terugflits van my ma se oë, ek wonder oor die vrou langs my pa, ek wonder en ek dink ek het verkeerd gekyk, dit lyk dan nie eens naastenby soos ma nie, waar is my ma? 

En ek besef na die hoeveelste keer, ma is nie meer nie en die lewe gaan aan… ma is weg, en langs pa sit ‘n vreemde tannie wat vir baie kans sien en ek begin onbedaarlik aan die huil gaan. Tot my eie verleentheid en die res van my gesin. My dogter sê ewe, ag damnit ma, die troue het nog nie eens begin nie en hier sit ma en tjank. 

In ‘n geskokte toestand sê ek vir haar die gesig langs oupa lyk net so verkeerd, ek het dit nie verwag nie, ek is jammer. En ek mis my ma in elke stukkie lyf van my.

Ek kyk na my ou pa, hy is beslis vetter as ‘n paar maande gelede, hy het ‘n huppel in sy stap en dit moet seker danksy die
grênd ou tannie wees, wat hom in sy spoor hou. Iets wat my ma in meer as een leeftyd saam met hom nie kon regkry nie, maar nou ja, die lewe gaan aan en miskien is sy die een wat ‘n ander se gebede lewe kom gee en hom na die Here sal lei, sy dranklus sal blus, en soos sy pa, my geliefde kosbare oupatjie, altyd vir hom gebid het dat hy tog nie verlore sal gaan nie. Ja ek het met my eie kinderore gehoor terwyl hy knielend voor sy bed gestaan het, en vir ieder en elk van sy geliefdes spesiaal gebid het soos net ‘n kind van die lewende God alleen kan doen.

DIE LEWE GAAN AAN, NUWE GESIGTE LANGS OU GESIGTE… HIERDIE LEWE STOP NIE VIR JOU AS JY VIR ‘N WYLE SKREE… STOP, STOP WANT DIT IS SEER HIERBINNE IN MY, STOP NETSO OU BIETJIE… DIT GAAN AAN EN AAN, MENSE VERANDER, PLEKKE VERANDER EN DIE GESIGTE LANGS JOU GELIEFDES KAN OOK IN JOU LEEFTYD MEER AS EENKEER VERANDER… 

Maar ongeag al die veranderinge is daar niks in hierdie wereld wat leemtes gelaat deur jou geliefdes, ooit kan vul nie dit raak net draagliker….

Goodluck tannie Mari en dankie dat jy in my ou pa glo!


Advertisements