Na aanleiding van Bali Drome se blog besluit ek om eerder hier te antwoord as op haar eie blog.

Gryp die my aan my hart want ek kan ruiterlik erken,  dat die seerste seer wat ek ooit ervaar het,  was die egskeiding van my seun, hy het vir maande aaneen kort kort soos ‘n baba gehuil, sy kind het kort kort op ‘n hopie as 4jarige gesit en huil, ek soek my mamma… ek was op my knieë voor sy gewese vrou,  en het haar huilend gesmeek om te werk aan haar huwelik -maar sy het verkies om als vir ‘n dronklap, wat sy op een of ander dating site ontmoet het, en ouer as haar pa is,  op te gee. 

Ek kyk na my kosbare Lainey, en my hart is altyd in gebed vir haar: Here asb moet nooit dat sy dink- of glo, sy was nie goed genoeg vir die vrou wat aan haar geboorte gegee het. 

Ek weet ook dat my kind wat weer in verhouding met ‘n ander vrou is, ongelukkig nooit weer sal kyk na enige vrou soos wat hy vir haar, sy kind se ma gekyk het nie. Ek wat sy ma is sien dat daar tydig en ontydig ‘n skadu oor sy grysblou oë kom hang, wat ek net kan toeskryf aan die hartseer wat hy nooit ooit uit sy eie hart sal kan trek nie. Die teleurstelling van verwerping –  dat hy nie goed genoeg was nie, nie eens sy “saad” nie,  sal nooit wortel en tak uit sy menswees getrek kan word nie. En ongelukkig sal die vrou wat kies om sy lewensmaat te wees altyd om die rede aan die kortste end trek,  as dit kom by sy hart in totaliteit aan haar gee. Ek ken die kind wat uit my moederskoot gekom het, en met ‘n hartseer weet ek dat die vertroue wat hy daar verloor het,  vir altyd deel gaan wees van die man waarmee hy homself definieër.

Maar my hart is ook seer vir sy gewese vrou, wat soos my eie kind vir my was, omdat ek op ‘n plek in my lewe trek waar ek weet ons is op ‘n stadium in ons lewe ons eie grootste vyand, juis omdat ons onsself nie kan vergewe vir goed/keuses, waarvoor ons self verantwoordelik was nie. Selfs al sê ons verstand vir ons, maar die Here het ons vergewe,  vind ons dit net nie in ons harte om ons self te vergewe nie.

Ek is op die beste van tye vir myself jammer, want ek het baie van my vertroue in die goedheid van die mensdom verloor, die dag toe ek weet sy gaan nie my kind of haar kind terugneem in haar lewe nie en ek smekend en huilend op my knieë haar gesmeek het om asb net te bly, al is dit net ter wille van haar kind, wat nou syne, my seun sin alleen is.

Maar vandag kan ek ook erken ek is trots op my kind wat sy kind as enkelpa grootmaak, ek is trots daarop dat hy na jare besluit het hy gaan nie terugloop op dieselfde pad wat hom en sy kind soveel pyn gebring het nie. 

Want alhoewel sy gewese vrou nog in verhouding is met die, steeds dronklap wat nou aan emfiseem ly, en haar elke nou en dan met die vuiste bydam, sy kort-kort probeer om my seun nader te trek na haar met allerhande soetsappige boodskappies, hy nie weer daarvoor gaan val nie, waarom? Want sy het sy kind  te seergemaak en as sy aan hom dink, wat my kind is, vergeet sy dat daar ook ‘n blou-oog dogtertjie is, van wie sy vergeet het en wat ook deel van hom is, want sy reik nogsteeds glad nie uit haar eie uit na haar kind toe nie, behalwe as my seun haar forseer om dit te doen – en daarom weet ek sal my kind nooit weer teruggaan na haar nie want hy ken sy kind se seer.

Die skade was net te groot met ‘n rippel effek waarvan niemand weet as hulself nie daardeur is nie. 

Ek voel so bitter jammer vir mense wat deur ‘n egskeiding geraak is in die een of ander tyd in hul lewe,  maar ek is saam met daai mense opreg bly as hulle ‘n tweede kans op huweliksgeluk kry, wat hulle dan end uit kan voer op hul lewenspad.

Advertisements