Ek weet rerig nie of dit ‘n stadium is waardeur ouer vrouens gaan nie, maar ek kan die oormaat van goed net nie meer verdra nie.

My seun het besluit hy maak skoon by hom, hy is ‘n opgaarder en dit opsigself maak my mal, want hy bly in ‘n kothuis op ons erf. En boonop ongewoon sentimenteel vir ‘n man. Maar dankie tog daar is goeie voornemens van skoonmaak.

Nou ja, hy maak al skoon vanaf die 1ste week in Desember en het vandag uiteindelik sy kind se kamer getakel. Ek het reeds vir hom gesê hy moet asb minder maak.

Ek haat die feit dat haar kamer soos ‘n speelgoedwinkel lyk. Almal koop en koop speelgoed. Die oordadigheid maak my mal. Laat sy self uitgooi en dit wat mooi en skoon is in ‘n doos gooi en dan vat julle dit na die kinderhuis. Die kinders het niks, hierdie oormaat maak my dood.
Met elke verjaarsdag en Kersfees sê ek asb, asb nie speelgoed nie, ‘n kleertjie of ‘n boek sal baie meer waarde hê! Net nie speelgoed nie, die goed het geen waarde met als waarmee sy ingestop word nie, sy weet nie waarmee om te speel nie!!

Hy maak skoon ja, dit doen hy, maar hy dra als oor na haar kamer in my huis. En met die aksie stoot hy net my moermeter op, ek wil nie als in my huis hê nie, skel ek in my kop. Gooi weg, gee weg…maar asb nie in my huis nie en ook nie in ons karre se huis nie!!

Ek dink aan myself, ek hou daarvan om te gee, maar ontvang, asb moet nie vir my “goed” gee nie. Ekself het alreeds te veel “goed”. Ja, vlg wereldstandaarde is ek en my man skatryk, ek het goed, baie goed. Maar ek is op ‘n plek in my lewe wat ek rerig nie nog goed wil hê nie. Ek is gatvol vir al die “kaggelkakkies” waarmee ek myself omring omdat die of daai dit vir my gegee het, hulle moet my waardering asb tog net raaksien as dit oral rondstaan.

Maar ai, die stof ensovoorts doen dit nie meer vir my nie. Ek kry deesdae elke 3 maande ‘n bevlieging en gooi dit uit, of dit wat ek nie meer kan uitdeel nie. NIKS VAN DIE GOED IN DIE WINKELS TREK MY MEER AAN NIE, al wat ek sien is al die onderhoudwerk wat daarmee gepaardgaan, en ek ril daarna en stap net mooitjies verby.

Maar wat soek jy dan vir jou spesiale dae, wonder julle seker?

Ek soek woorde vasgevang op papier, in die vorm van ‘n mooi brief. Spesiaal net vir my geskryf, liefdesbriewe of net gewone praat briewe –  wat ek in ‘n mooi dosie kan bêre en elke nou en dan weer kan gaan lees. Ek soek briewe van my kleinkind, van my kinders, van my vriendinne en vriende, van my stokou pa, en bo als sou ek wat wou gee vir ‘n brief van my liewe mamma wat nie meer is nie. Ek soek briewe, handgeskrewe woorde, vasgevang in tyd.

Ek is ‘n woordmens, nog altyd. Ja, dit het my ookal in groot moeilikheid gebring, maar nogsteeds is daai woorde op papier vir my van die kosbaarste besittings ooit, dit is myne, en dit is vir my alleen! En dit soek ek vir my spesiale dae, net dit!

En as jy nou rerig nie ‘n skryfmens is nie kan jy my maar ietsie sout te ete gee, met ‘n bottel Merlot daarby – even ‘n tjeep Merlot sal ‘n ysbreker wees of ‘n stukkie mooi musiek.

En as jy dalk die dag iets van my ontvang wat jyself dalk vir my gegee het,  weet net dit is ge-re-gift met baie, baie groot liefde en weet daarby die tyd toe ek myself nog omring het met goed, het ek dit elke oomblik geniet….maar nou is dit ‘n volgende se beurt om dit te geniet en dan met deernis terug aan my te dink, elke keer wat jou oog dit vang…

Doos = houer waarin jy goed berg

Moermeter = iets stoot my b/d op

Gatvol = genoeg gehad/gekry

Kaggelkakkies = allerhande tierlantyntjies.

Dosie = ‘n mooi boksie met ‘n lintjie daarom gebind

Merlot = my gunsteling rooiwyn

Tjeep = goedkoop of prys/brand,  maak nie juis saak nie

Re-gift =  stukkie van my wat jy dalk huidiglik meer sal geniet of kosbaarder vind,  as wat ek huidiglik doen
Fluit-fluit…

Advertisements