En so is die daglig van dag een aan die kwyn. Ons het as gesin vandag ons “Kersdag” gevier. Dus is ek vroegoggend al voor die potte om die dag darem nou op ‘n gepaste wyse te vier met lekker eet en kuier, geskenke uitdeel ensovoorts.

Ek vergaap my in stilte aan almal, oor my dierbare Lainey se opgewondenheid oor die dag wat voorlê, my seun se vriendin se 4 jarige is netso uit haar kassie en kan die afwagting van geskenke ontvang net nie beteuel nie. Desember was voorwaar krismis vir die 2 kies wat geskenke betref, omdat hulle die jongste lede van ‘n groot uitgebreide familie is, is hulle op almal se Kerslysie. 

Lainey en haar oupa speel skaak, sy begin haar oupa les laat opsê en ek dink by myself, die is nie skaak nie, die is “sweet memories” waaraan my kosbare Lainey eendag gaan vashou

Hope en hope geskenke wag vir ons almal. Ek en die baas van die plaas is nie juis hoog wat geskenke koop betref nie, en elke jaar is almal afgehaal oor waarom ons nie ook vir mekaar  iets koop nie. Wel die jaar het ek toe sommer ‘n boek vir myself en vir my man gekoop, myne toegedraai en hom daarna opdrag gegee om iets vir my op my pakkie te skryf. 

Die kinders is beindruk dat ons vir mekaar die jaar tog ook ‘n ietsie gekoop het. Ek gee my man sin, en hy gee myne ek lees my boodskap kliphard en vol opwinding voor – half geskok en verbysterd kyk hulle na hul pa, het pa rerig vir ma iets gekoop? Het pa rerig dit self gekoop? Ek maak dit oop en gee ‘n gil: ek kan nie glo jy het dit vir my gekoop nie, ek soek al solank daarna, hoe het jy geweet ek soek die boek??? So baie dankie my dierbare man!

Hy staar na my in absolute verwondering,  of sal ek dit eerder afgryse noem oor die teatrale skouspel wat so “non chalant”  voor hom afspeel. Hy stik aan sy woorde,  want die kinders peper hom met komplimente  hulle kan nie glo dat hy so reg gekies het nie. Ek glimlag van oor tot oor, net omdat die kinders so absoluut trots op hul pa se keuse van geskenk aan hul kieskeurige ma is.
Dit is badgoed, eetgoed, kaggelkakkies die lot wat ek die een na die ander oopmaak en oe en a, ek dink aan die kas vol badgoed waarmee ek nie kan voorbly nie en wat ek beslis in die nuwejr sal moet “re-gift” voor dit begin stink. Maar ek glimlag van oor tot oor, want my kinders is dan so gelukkig dat hulle my kon toegooi onder allerhande goed.

Onder andere kry ek ‘n klokkie wat ek kan lui elke keer wat ek wens vir ‘n droom om waar te raak, nogal van my Veearts af. Ek bekyk die klokkie en ek dink in stilte…. my liewe kind as jy maar net weet waarvan ek die meeste droom is oor jou, jou hernieude verhouding met iemand wat nie goed is vir jou nie, ek droom ek skrik wakker net om te besef dit was net ‘n nagmerrie en niks meer as dit nie. Ek droom jy loop nie weereens ‘n deurtrapte pad wat elke keer op hartseer uitgeloop het nie. 

Toe onthou ek, ek gaan mos nie terug daarna nie,  ek het dit dan by die Vader se voete gaan lê en dit is waar dit bly, veilig aan Sy voete waar Hy alleen daarmee sal werk tot Sy eer alleen. En ek bid,  gee my asb die krag om dit nie weer te gaan haal nie, gee my net die krag want dit is dan nou net die 1ste dag van die nuwejr.
En so het die dag begin… en hopenlik eindig my jaar waar ek by my voornemens gaan bly om goed waaroor ek gebid het,  nie weer my eie te gaan maak nie. 

Want my gesin is eerstens die Vader sin en dan myne,  en nes Hy belowe dat Hy klee die voëls van die veld in die mooiste klere en kleure, Hy voer hulle sonder dat daar ‘n enkele dag verbygaan waar Hy nie bewus is van ieder en elk se bestaan, hoe onbenullig ookal, Hy weet want Hy is die Koning van die heelal en Hy lewe in my en jou as mens voort hierop aarde… Hy ken ons by die naam want ons is Syne en Hy is in beheer.

Nog ‘n Kersdag in Januarie is tog altyd lekker as jy half klein, maar alreeds amper groot is….

Advertisements