Met al die skielike baie tyd op hande kry ek myself kort-kort daar waar ek na verskillende mense se whats/app profiel fotos en dies meer kyk.

Soos die mens se natuur kyk ek na elke prentjie, ek analiseer, ek wonder en ek droom saam, so hier en daar.

Ek praat met die man langs my terwyl ek bestuur, wat net elke nou en dan bevestig  met ‘n “uhu” waar hy nie bewus is waarop, of wat hy bevestig nie – daai ding waarmee sommige mans so goed is, “uhu”… net om te maak of hy na die persoon langs hom se gesprek luister, en dan hard bid dat daar tog net nie agtergekom word dat daar geensins geluister word nie, omdat hy  met sy eie onafgehandelde gesprekke iewers doer ver in sy agterkop besig is.

Nou ja, kom ek vertel julle. 

Het jy Armand se profiel foto gesien? 

Uhu..

Hy kan rerig nou nie meer wag om te trou nie. Ag is hulle nie ‘n mooi “couple” nie –   hulle het als so mooi en reg gedoen.

Uhu…

Hulle het dit effe makliker as ek en jy gehad, hy sê hulle het als wat mens nodig het vir huis opsit, wat nou ook reeds gedoen is. Hy reken as hy en Sunè R20.000 spandeer het om hul plekkie in te rig was dit baie. Hulle het als so te sê van vriend en familie gekry. Dit is lekker nê? Hulle kom terug van hulle honeymoon na ‘n ten volle gemeubileerde huis, dan eers trek hulle hulself in.

Uhu…

Nie soos ek en jy nie, ons was maar arm. Maar ons het darem min of meer als gehad, alhoewel ekself met my klere alleen daar ingestap het en ‘n paar goedjies wat ek met my kombuistee gekry het. Ek het mos eintlik nie beplan om so gou te trou nie.

Uhu…

“Mind you”, ons het als behalwe ‘n wasmasjien gehad. In ons tyd het als nie ‘n skottelgoedwasser en tuimeldroeër ingesluit nie, dit was luukses, selfs ‘n wasmasjien was nie ‘n gegewe nie. Die het ons eers maande na ons oudste se geboorte gekry, op skuld, omdat beide van ons keelvol doekegetrap was nadat ons 12 uur skofte gewerk het,  en omdat weggooidoeke toe nog net vir die rykstes beskore was. Ons sitkamerbanke was heel mooi op die oog-af, moet net nie gaan sit nie want die kans dat jy op die grond gaan sit was heel groot. (Terloops die wasmasjien was nou nog wasgoed vir die vale as ons by ons vakansiehuisie in die Kaap kom rus. 30jr later swoesh-swoesh ons handgeverfde wasmasjien wat ons saam met ons kinders geverf het toe hulle nog onder een kombersie gepas het, totdat als silwerskoon daaruit kom. Die goed was toe mos gemaak om te hou, dit was die vervaardigers se trots, nou hou als net 5 jr. KAPITALISME het als kom verander)

Armand hulle is baie gelukkig. Ek glo hulle sal vir altyd gelukkig wees, hulle het als so mooi reggedoen, verloof, versamel, trou en dan spyker.

Uhu…

Ons het dit so agterstevoor om gedoen, ons moes als op die harde manier geleer het, dink jy nie dit is die rede waarom ons kinders se verhoudings op die beste van tye so “messed up” is nie? 

Uhu…

Luister jy ooit wat ek praat?

Uhu…

Wat het ek gesê? 

Ek moenie vergeet ons moet charcoal en ‘n vleisie koop, en dan een van daai broodjies waarvan jy so baie hou… sien ek luister!

Ja, nes jy daar sê… en o ja, wat van die 6 bottels heuning wat ons vir Henk moet koop, jy het daarvan vergeet.

Hierdie “honeymoon” het tot vandag nie realiseer nie… maar waar in die Bybel staan jy moes ‘n lekker honeymoon gehad het om lank getroud te wees met iemand wat nie ore het nie?? 🤔

Advertisements