Ek was my hande in onskuld…. is al wat ek na dese kan sê as ek na my kinders se keuses in hierdie lewe kyk.

As volwasse mense kan ek as ma net my mening/opinie hardop uitspreek en daarna kan hulle maak soos hulle self goeddunk.

Ek het kinders sonder ‘n handleiding groot gebid, nie een van hulle het sleg uitgedraai nie. Maar as dit by verhoudings kom is dit asof hulle heeltemal uit hul diepte is. 

My man kind wat maklik val vir die “slagoffer mentaliteit” in die mensdom het ‘n duur prys betaal in sy huwelik. Vandag is hy enkelouer van die mooiste 8 jarige dogtertjie wat hy grootmaak, nadat dieselfde vrou wat slagoffer gespeel het om hom in ‘n verhouding te kry oor hoe verskriklik sleg haar ouers is, en dat sy soos ‘n slaaf werk in haar ouerhuis en mishandel word deur haar pa. Toe trou hy en ja, almal van ons weet kinders grootmaak, werk en huishou is een hengse “tall order” dit verg goeie beplanning ens. Toe ontdek sy “we chat” en begin met ‘n man ouer as haar pa praat en het dit wat sy by my seun gehad het verruil om in totale armoede met ‘n dronk ouman, vol emfiseem haar kind af te skryf en saam met hom ‘n nomadiese lewe te probeer maak. Haar rede? Want als gaan nie net oor geld nie – hy is wel nie ryk nie maar hy is baie “caring”? 

Nou ja, my seun betaal nog daagliks die prys oor dit en nie in geldwaarde nie, maar wel in sy selfrespek as man en pa. Sy probeer tydig en ontydig om weer in sy lewe te kom, maar ek moet hom kt gee, daai deur het hy toegemaak,  en ek dink al rede  is oor die terugblik wat hy kort-kort kry, waar sy 4jarige dogtertjie op ‘n swaai sit en huil…. “ek soek my mamma, liewe Jesus, ek soek my mamma.” Dit het baie geverg om haar te kry waar sy vandag as ‘n slim intorvert dogtertjie weer haar voete in die wereld gevind het, terwyl ons haar verseker dat sy ‘n mamma het wat baie lief is vir haar (gmf) al praat sy seker maksimum tweekeer ‘n jaar met haar kind en slegs as haar kind haarself bel. 

My seun het juis haar nou laat bel om vir haar ma te vertel hoe haar rapportjie lyk. Ek was vies  en het hom gevra waarom doen jy dit? Sy stel nie belang in haar kind nie! Waarom ag jy dit nodig dat sy met haar ma MOET PRAAT? Jy maak my so kwaad. “Ma as ek dit nie so doen nie, en my kind is eendag 16 sal haar ma omdraai en vir haar sê ek het haar toegang geweier tot haar kind – dit wil ek nie hê nie. My kind moet weet dit is ‘n leuen.” Ja dit is seker so, maar dit is swaar vir my as ouma.

Aan die anderkant val my dogter terug in verhouding met ‘n man wat aan sy eie godkompleks ly. Hieroor gaan ek nie eens uitbrei nie.

Dit laat my wonder, ons almal kies vir onsself, en baiekeer is daai kies ons grootste teenspoed in ons lewens. Mense om ons kan hulp en raad gee, die finale keuse is ons eie, ons kan onsself vrymaak deur die regte keuse, dalk moeiliker maar gesonder, of ons kan vir onsself ‘n lewenslange straf gee oor ons onbehoorlike keuse. 

Dit is net jammer dat mens eers self daai pyn moet voel om te besef dat dit dalk nie die regte keuse was nie,  en somtyds is daar gevolge van daai keuse wat elkeen van ons op ‘n daaglikse basis herinner aan daai ondeurdagte keuse, in my seun se geval is dit ‘n dogtertjie op ‘n swaai wat huil… “ek soek my mamma, liewe Jesus ek soek my mamma”… wat vir ewig en ewig in ons almal, wat haar liefhet se geestesoog afgeêts sal bly… terwyl ons deel van hierdie wereld is.

Advertisements