Ja, wat ‘n stryd met die kinders niks is maklik nie,  hoekom moet n mens deur alles gaan? Ek weet nie. God laat dit toe want ons is op aarde en geen mens is bestand teen alles nie.

Dit is ook my skuld ek was nie betrokke in haar lewe nie, ek het alles oorgelaat aan jou, waaroor ek bitter spyt is,  ek vra dat jy my vergewe daarvoor. Jy moet my ook help want ek weet ook nie hoe om alles te hanteer nie. Al wat ek weet ek is lief vir jou en ek wil jou nooit verloor  nie.

Ek wil jou moed inpraat met als wat so donker lyk en noem dat daar tog uitkoms altyd naby is.

Ek en jy het alles gedoen wat ons kon vir ons kinders,  ons moet besluit ons lewe nou vir ons!

Liefde jou man

Bg na aanleiding van ‘n rowwe naweek in ons huishouding en midde in die “silly season”. Waar ek met die harde werklikheid kennis gemaak het, en  met die feit dat my kosbare dogter so te sê terug is in ‘n verhouding met ‘n man wat haar al haar dae gegee het. 

Ek het die naweek deurgegil, geskel en verwyt, in so mate dat daar geen keer was nie. Hoe kan sy dit doen, sy was vir jare in ‘n aan en af verhouding met iemand wat geen respek vir haar het nie, maar altyd weet hoe om die regte knoppie te druk. Tot en met Aug 2015 waar hy haar dmv haar sekretaresse by die werk afgesê het. Sê asb vir “haar” ek gaan nie vanaand saam na die verjaarsdagparty van haar vriendin nie, sê sommer vir haar ek sal ook nie more na die familie verjaarsdagfees gaan, sê vir haar eintlik was ons net in haar kop in ‘n verhouding.

Sy het dan belowe dit is nou klaar, op daai dag in Aug 2015, wat haar mat en haar selfvertroue vir die hoeveelste keer onder haar uitgeruk is, maar nog nooit op so kru manier waar soveel van my mense daarby betrek is nie. SY HET BELOWE SY HET GENOEG GEHAD…SY HET BELOWE

Ek gaan nie weer die pad saam met haar loop nie. Vir 5 lange jare het die man ons emosies beheer, en toe kom Aug 2015 en asof daar ‘n berg van my skouers gelig is, is dit uiteindelik finaal verby, of so het ek geglo tot nou toe.

Toe sien hy  “sy” is gelukkig, sy hou vakansie op haar eie en vir 15 maande blom sy, vol selfvertroue leef sy haar uit in haar beroep of soos syself sê roeping. Sy lewe, sy lag en tel ‘n klomp broodnodige kilo’s op, sy gaan selfs kerk toe en werk aan haar verhouding met die Here. En toe, toe op ‘n manier onthou hy haar, en met die druk van ‘n pr knoppies is my kind weer deel van hierdie yo-yo lewe,  waar sy stil-stil wegkwyn voor my oë. Weer stel sy haarself bloot aan sy emosionele mishandeling en selfs waar dit al voorheen geneig het tot die fisieke deur haar tweekeer van trappe af te stoot. Ek voel vernederd as ma, hoe kan sy??

En ek skreeu: HERE, ek gaan nie WEER die pad stap nie,  ek sweer, ek gaan nie. Ek wil nie, ek kan nie, ek het nie die krag nie en dit midde in hierdie kamtige feestelike tyd waarin almal hulself bevind!!

Vergewe my, maar ek gaan vandag nie die pad stap nie! Miskien more kyk EN voel ek anders. Maar vandag sê ek net, hoe dom kan ‘n mens nie wees nie deur om elke keer by dieselfde bitter put te gaan suip, of ‘n pad wat al tot vervelens geloop is sonder dat daar enige rigting is te wil loop, hoe kan ‘n slim mens so verdomp onnosel wees? 

MY HART IS FLENTERS KAN EK NIE MAAR NET GAAN SLAAP TOT VROEG JANUARIE…

…WANNEER DIT DAREM VOEL OF DIE WERELD NA MIN OF MEER NORMAAL NEIG!!

Advertisements