Ek weet nie hoekom nie, dalk omdat dit die tyd van die jaar is waar almal van ons in retrospek na die afgelope jaar kyk. Vir myself ‘n blitsige jaar, ek kan elke keer huil as ek op ‘n staat moet skryf “JANUARY 2017”. My oë wil net nie glo dat dit al 2017 is wat vir my knipoog – nog minder my sielemens. 

Maar daar gelaat. Ek begin darem al min of meer agter te kom hoe en waar om ‘n blog te lees. Die wat ek volg land partymaal tussen my e-posse, die mis ek darem nie. Wat ek lees in baie blogs is die feit dat mense in die steek gelaat voel met die sg “christenmense” om hulle en hul kerke. Dit is vir my baie hartseer.

Dit is hartseer as mense vir Jesus in ‘n gebou gaan soek en al wat hulle daar kry is oordeel en veroordeling. 
My lewe lank besef ek dat ons nie noodwendig Hom daar sal kry nie. Baie kerke is in elk geval net ‘n kultuur organisasie – in my geval voel ek nogal so oor die 3 susterskerke van ons tyd. Ja, dit mag dalk “judgemental” klink, maar as ek sien hoe baie hulle dogma met die tye verander, hoe hulle dan die Bybel interpreteer om by die tye aan te pas, dan wonder ek? Hoe hul dogma verander om by die regering van die dag aan te pas is netso erg vir my. Is die Bybel nie ‘n vaste fondasie nie, is daar nie gesê dat ons nie daaraan mag verander nie?

Daar gelaat, ek praat van die kerk wie se deure vir mense, stukkende gebroke siele altyd oop moet wees. Vir my is ‘n kerk soos meeste mense van die spesifieke gebou praat, net ‘n gebou,’n leë dop. Dit is die mense binne die gebou wat die kerk behoort te wees. As mense sê hulle het na die gebou gegaan en geen kerk daarbinne gevind nie, dan kry ek in my diepste wese seer. Juis omdat ek weet dat dit die sulkes is wat soekende mense so maklik laat sê: Christene, gmf…. moet my niks van hulle vertel nie.
Ek en jy is die kerk, ons is Jesus se kerk en daarom het ons ‘n verantwoordelikheid om diegene wat honger en dors na daai gebou gaan, gevoed daaruit sal sien stap. Sodat daar nie veralgemening plaasvind nie. As jy in so gebou sit waar mense steeds honger en dors is as hulle die plek besoek het, moet jy eerder opstaan,  jou “kerk vat” en dit op ‘n ander plek gaan laat uitleef sodat honger en dors mense kan sê “Christenskap” is wat ek wil wees. Ek wil ‘n kerk wees, ons as ware kinders van die Vader kan duisende kerke plant sonder dat dit ons ‘n sent sal kos, want as ons elke honger en dors mens wat ons pad kruis kan wys hoe lyk God se ware kerk sal hulself gaan en ‘n kerk vir die wat ook honger en dors is, kan wees. 

Die Kersfees, wees ‘n slag die kerk wat jy bedoel is om te wees, die kerk is nie ‘n gebou nie,  maar wel die mense daarbinne en Jesus sal slegs geken wees deur daai mense aan ‘n ander en nie deur die gebou wat hulle besoek nie!

Advertisements