​Nee, ander mense se babas maak my glad nie broeis nie – ek is gevra om die foto wat vir my die meeste betekenis aan my lewe gegee het as ‘n pp op fb te gebruik. 

Dit is die een. Dit was van die uitdagendste en vreesaanjaendste tye van my lewe gewees – ek het elke aand na my eersteling se geboorte gebid en net gesê, “Here as die dingetjie tog net nog ‘n dag leef behoort ons dit seker te maak?”
Ouerskap het beslis nie vir my natuurlik gekom nie – tot vandag sal ek ruiterlik erken dit was en is seker een van die moeilikste goed ooit vir my gewees. DIT HOU MY NOGSTEEDS IN VERWONDERING DAT EK HULLE GEVOER KON KRY, WARM KON HOU, ‘N DAK KON GEE EN BOONOP AAN DIE LEWE KON HOU TOT IN VOLWASSENHEID – dit moet genade wees, dankie Vader.
Elke dag was soos om my eie spreekwoordelike Everest te moes uitklim, vandag mog ek dalk bo die berg staan maar my antwoord is as volg: Dankie Vader, dat mens nie weet waarvoor jy jou inlaat nie. As ek na enige van my twee kinders kyk dink ek: damn, dit is waaragtig ‘n wonderwerk. 
Soos in ‘n gesprek tussen my en my kinders laasweek iewers waar ons oor die gevolge van rook/alkohol ens misbruik op die fetus het en ek heel trots vir hulle sê: wel ek was van die oomblik wat ek bewus van my swangerskap so sober soos ‘n Priester en wat sal hulle my ewe antwoord? Nogal gelyktydig – “dankie tog, dink net as ma iets moes gebruik het om deur die swangerskap te moes kom, hoe spesiaal sou ons nie dan gewees het nie???
Dus weereens, NEE, ander mense se babas maak my glad nie broeis nie – ek is gevra om die foto wat vir my die meeste betekenis aan my lewe gegee het, as ‘n pp te gebruik.
En hierdie ander twee fotos is geneem met die ander groot hoogtepunte in my lewe – dit was hul teken aan my dat ongeag hoe hard ek gewerk het aan kinders grootmaak, was dit toe op die einde die moeite werd. 


Al die opofferings wat ek noodgedwonge moes maak was goed, die nee’s toe ek eintlik wou ja… dit was reg want vandag in retrospek sou enige ontydige ja in my lewe, my hele lewe se koers kom verander het en sou ek heelwaarskynlik nie die twee fotos teen my muur gehad het om te kan sê: MY EVEREST, EK HET JOU GEKLIM… EN DIT WAS ALS AGV SY GENADE ALLEEN!

Advertisements