Daar stap ek in Woolies en sien die ideale soenoffer. Ek gaan 2 bakkies sago koop, een vir my en een vir jou. Net sodat ek kan sê, jammer oor Woensdag, jammer dat ek my ergernis met werksmense op jou uitgehaal het, deur ‘n  eerlike antwoord op jou vraag van hoe was dit by die werk? 


Dit gaan werk,  dit sal die harmonie tussen ons herstel, want van Woensdag af kry ek “pakslae” oor ek eerlik was en onkant gevang was met die skielike vraag so uit die bloute.

Net ek en jy en my soenoffer… 

Maar nou ja, ek het gewag en gewag en geweet jy sal nie kom nie – ek ken jou en jou eiewysheid. Lg waaroor ek so baie bid, want ek is bang vir die slag as dit na “selfverwyt” omsit agv die noodlot.

Koffie is wat ek nou nodig het, met die dat ek die yskas oopmaak,  koggel die soenoffer my… jy het nie gewerk nie, praat ek terug. Jou impak is nie meer soos jare gelede nie. Dit is nou ek en jy… ek sit ‘n bakkie in die mikrogolfoond vir ‘n pr sekondes en verslind dit met ‘n pr teue koffie tussendeur. 

Net om presies dieselfde met die 2de bakkie, wat die soenoffer moes wees, te doen. Wat ek vooraf gedink het ek sal maar vir my man gee, natuurlik voordat  ek die 1ste een verorber het. Ek en die 2 leë-bakkies, met twee honde wat “drool” en ‘n kat wat loer, oorval ‘n soort hartseer my. 


Ek val plat op die bank met my kop op ‘n kussing wat ene brak ruik, en ek wonder oor dinge wat so maklik skeef kan loop. Woorde wat verkeerd geinterpreteer word en dan later teen mens gehou word. 

In my wonder kom gee Bella brak my ‘n sopnat soen met haar snoet. Vir  ‘n lang ruk staar sy my in die oë met bruin liefdevolle,  ek verstaan poele vir oë,  en ek wonder:  dink jy, voel jy my mismoedigheid aan, wat is dit nou met jou brak?

En so waar as wragtag hier kom lê sy lepel saam met my, terwyl my gedagtes gaan na “mislukte soenoffers” en al wat ek daarvan oorhet is ‘n gruwelooslike sooibrand, met ‘n gekrenkte siel omdat soenoffers nie meer dieselfde effek het soos jare gelede nie…. DIT GEE NET SOOIBRAND…

Advertisements