Ek begin darem al hoe meer vertroud raak met die “blog-ding” Ek kry dit reg om al hoe meer mense se blogs te lees sonder dat dit ‘n “flook” was. MAW ek lees dit raak omdat ek die regte link gevolg het.

Maar ai, so deur die lees kom ek agter dat ek my op rowwe waters begeef. Hoe is dit dat almal na ware skrywers vir my lyk… ek is mos nou heeltemal uit my diepte tussen hierdie klomp towenaars met woorde. Ieder en elk kry dit reg om my te boei, te laat lag, te laat dink, weg te voer na eksotiese en minder eksotiese plekke ens. Ek hardloop terug na my eie sg “blog” en ek sien hoe onervare my geskribbel op die beste van tye lyk.

Dan dink ek terug, hoekom het jy met dit begin? Ek het al lank terug daaraan begin herkou, moet ek of moet ek nie. Maar nou ja, te skaam om te vra oor die hoe’s en wat’s van die bloggers, het ek my vinger in die stroompie gedruk en begin roer. 

Maar eers google ek, waarom en hoe blog mens? Kort en kragtig kom dit deur: dit is soos joernaal hou en met alle waarskynlikheid sal niemand dit ooit lees nie. Jy skryf maar, dit is soos om jou eie biblioteek vol van jou eie gedagtes na te laat. Vir wie dit ookal gaan lees. 

Ek het gehou van die anonimiteit wat daarmee gepaardgaan, ek vertel vir niks of niemand van dit waarmee ek myself besig hou. Ek kan dit wat pla/gelukkig maak ens net neerpen en my gedagtes orden.

Maar nou, na die lees van almal se woorde voel ek half en half uit my diepte en ek wonder, wil ek eintlik nog hier wees? Ek glo nie. Been there, done that, got the scars to proof it…

Advertisements