​Ek probeer weer, die slag wil ek geen vriendin uitsonder nie, vriendskappe is so bitter kosbaar, suurstof vir ons somtyds so moeë siel. Wie van my handjievol vriendinne sal ek ooit kan uitsonder – ja, handjievol want op die beste van tye glo ek glad nie ek is die beste vriendin terug nie.

Maar my vriendinne is nie net daai wat ek terloops ontmoet het nie, op die beste van tye is my susters my beste vriendinne, ander kere my dogter en ja, dan ook my 8 jarige kleindogter, want saam met haar is ek nie ‘n vriendin nie, maar ons word maaitjies – op haar vlak maaitjies. Weggevoer vir ‘n wyle van die realiteite waarin ek myself bevind.

Maar wat sal ek ooit kan doen sonder my familie vriendinne, en dan natuurlik my raakgeloopte vriendinne wat my pad kom kruis het in hierdie lewensreis? Ieder en elk is kosbaar, ieder en elk het waardetoevoeging tot my lewe gebied. Sommige het ek aan die dood moes afstaan en ander se paaie het in ‘n ander rigting geslaan, of ons het net doodeenvoudig nie meer iets in gemeen gehad wat voorheen ons deel van mekaar se lewensmatte gemaak het nie.
Maar as ek ooit weer moes kies sou ek ieder en elk weer gekies het – hulle almal was so integrale deel van my lewe, van my grootwordproses. Daar is diegene vir wie ek so graag hoed in die hand wou sê;”ek is jammer oor die ongevraagde raad wat ek jou gegee het, ek is jammer oor die seer wat my keuses jou aangedoen het – maar ek was jonk en dom.
Dit is jammer dat ek eers baie later in my lewe die waarde van vriendskappe ontdek het, omdat my verskoning altyd is: “ek is so besig”… ek vang myself nou nog van tyd tot tyd die verskoning gebruik.
Maar was dit nie vir my dikvellige vriendinne se borde kos as ek uit “ge-bail” het vir ‘n wyle nie, lang oproepe wat troos, sonder oordeel, oor keuses wat my kinders gemaak het, wat dalk nie so goed was en mooi na buite gelyk het nie, en daaroor my hart aan flarde gehad het. Die “toemaar ek is hier vir jou, dag en nag” die slag toe my man ‘n hartaanval gehad het en dit gevoel het of my lewensmat onder my uitgeruk is. My vriendinne se geestelike advies, sonder oordeel, hoe sou ek ooit daarsonder? Die een wat nooit op Facebook enige iets te sê het oor enige “status updates” van my nie, maar elke dan en wan in ‘n whatsapp boodskappie “comment”, net om haar mening te lig en my dan altyd weer beter te laat voel oor myself. Die wat geweet het hoe erg is dit as jou ma doodgaan en vir my kon sê hoe moeilik die lewe daarna is, omdat jy net nooit weer ‘n aardse gesprek met jou beste eerste vriendin, jou ma, sal kan hê nie.
Deurweef is julle in my lewensmat, elke een so perfek vul julle mekaar aan en weet ek kan ek sê; ja, die of daai een, sy is my vriendin. En ek is seker hulle glo dat ek ook ‘n verskil in hul lewens kon maak met my eenvoudige bestaan! 

Advertisements