heart

Ek het vandag weereens ervaar dat die hart van ‘n ma altyd, maar altyd presies dieselfde lyk as die van ander ma’s. Ongeag die velkleur van die ma, ons moederharte is in die binnekant presies dieselfde aanmekaar gesit. Met omgee, liefde en die gom van hul kinders se respek en liefde vir hul ma.

My huiswerker van toentertyd, sy is nou 81, kom gereeld vir haar kinders in Pretoria kuier vanaf Pietersburg. Sy durf die tog op haar ouderdom aan met publieke vervoer, dit opsigself is ‘n prestasie op my liewe Paulina se ouderdom.

As sy die slag hier is probeer sy altyd ‘n draai by my kantoor te kom maak om net vir my, haar witkind, soos sy my noem te kom hallo sê.

Vandag het ek sommer met die intrapslag gesien sy is nie haar gewone stralende self nie – ek het die hartseer in haar dierbare gesig gesien. En toe kom dit, haar een dogter is nou werksaam by my.

“Jy weet, Grace is sleg, sy is ‘n slegte kind”

Ek sê vir haar ai Paulinekie, sy is nie sleg nie, sy is goed vir my.

“Nee sy is goed vir jou want sy weet jy betaal haar, maar sy is sleg vir my”

Hoe dan nou my tannie, hoe dan nou?

“Gister toe sy my by Derek se huis kom groet, sien ek sy het 4 toiletrolle gekoop, ek vra sy moet my net ‘n piece gee want Derek se papier is die koerant. Sy sê nee, ek moet my eie papier gaan koop, dit is syne. En die trane vloei verleë oor haar wange. Ek en sy ons het baklei, ek sal huistoe gaan en nie koebaai sê vir hom nie.

Ai my liefste tannie, en ek dink terug aan my eie ma, wat sou ek nie gegee het om haar net nog net eenmaal te kon sien nie. Ek dink terug toe ek en my seun so ruk terug woorde vir mekaar gehad het en dit gevoel het of my hart uit my borskas geruk word, net omdat daar verwyt uitgekom het waarvan ek nie eens bewus was nie. Die gestoei wat ek vir dae aaneen daarna met myself gehad het, ek kon hom glad nie in die oë kyk nie omrede ek so bang was hy my pyn in my oë gaan sien.

Ek sien my dierbare Paulina se trane, en ek weet dit is nie trane van kwaad nie, dit is trane van bittere pyn en woorde ontgaan my. Sy het in stilte vir nog so twee ure by my in die kantoor gesit voordat ek haar taxi rank toe gevat het. Ek druk haar teen my vas by die taxi rank en ek sê vir haar; Gracie is baie lief vir jou, moenie te kwaad wees nie ek het ‘n persent by die huis wat ek vanmiddag aan Gracie gaan gee om vir jou te gee. Moet asb nie kwaad bly vir mekaar nie, die lewe is soooo kort en as jy weer sien is een van julle dood, moenie baklei nie.

In my terugry werk toe besef ek my hart, jou hart, ons moederharte is presies dieselfde, ons kinders is ons harte se gom en as daai gom lostrek is die seer so groot dat jy dit vir niks in hierdie wereld kan wegsteek nie. “Hamba Kahle my old friend”, my swart ma, die vrou wat myself soveel keer moes kom red het van myself in my jongerdae. “Hamba Kahle” en die trane rol oor ek presies weet hoe sy vandag voel en ek het nie woorde om dit beter te maak nie….

Advertisements