menu
Ek is 32 jaar getroud, maw ek kook al vir 32jr omtrent elke aand ‘n ete.
En dan praat ek nie eens van watter ouderdom my liefste ma, RIV, ons maak kook het nie.
Volgens haar moes ‘n dogter die oomblik wat sy oor die stoof kon sien begin kook. Ek is seker dit was van die ouderdom 8 jaar oud!
Sy was ‘n beroepsvrou gewees vandat ek my verstand gekry het, maw van vroegoggend tot laatmiddag het sy geswoeg en gesweet om die spreekwoordelike pot aan die kook te hou.
Elke middag so om en by 15:00 het ons, ek en my suster, want seuns kook nie, die gewraakte oproep gekry: “kook boontjies, rys en soetwortels, gooi geen sout of suiker by nie,  ek sal dit doen en sit die hoender so en so in die oond” en basta met die res.
Dan moes ons die tafel gedek hê en gebad wees as my ouers voor die voordeur stop. Altyd met ietsie spesiaal vir 3 afwagtende kinders met ‘ n 2jr verskil wat ouderdom betref tussen hulle en heelwat later met ‘n laatlam, vir wie dieselfde reëls glad nie gegeld het nie alhoewel sy ook ‘n dogter was.Sy het die gekookte kos kom afrond en eetbaar maak met haar spesiale “touch”.Hoe mis ek nie die dae nie. En o ja, ons was selfs verantwoordelik om skottelgoed te was na die gewraakte kokery wat alewig op ‘n oorlog uitgeloop het oor wie was en wie droog af, ons wou beide altyd gewas het omrede dit nie ook wegpak behels het nie!
Maar terug na my eie kookuns wat vir my al so sieldodend soos kryt op ‘n witbord is. Die “wat maak ek vanaand vir ete?” Ek is rerig al so moeg van dieselfde roetine kos wat ek weekliks voorsit.
En toe laasweek Donderdag aan tafel, na die hoeveelste voorspelbare bord kos besluit ek genoeg is genoeg, en maak die volgende aankondiging. Van Maandag af kry elkeen van julle ‘n beurt, Maandag tot Donderdag om my in te lig wat julle wil eet, as ek teen Maandag 11vm niks idees het nie, neem ek aan julle is nie lus om te eet nie. Wel onnodig om te sê, het elkeen se versoek kort daarna ingekom. Soos die versoeke inkom so het my eie stressvlakke gedaal omrede by my is die maak van etes glad nie die probleem nie, by my is die “wat maak ek alweer” my krisis.
Ek self werk ook hard gedurende die dag en is rerig nie dan nog lus om te wonder nie, veral nie oor kos wat nie juis by my ‘n prioriteit is nie. My huismense sal my elke nou en dan herinner dat, “ma kan op suurstof leef, ons nie” dan kry ek die allervreeslikste behoefte in myself om te sê – julle is welkom om te oefen, O2 werk dan so goed vir my 😉
En as ek myself maar weer kry, is ek voor die alewige leë potte,  met ‘n dankbare hart besig om my kookkuns voor te berei na iets wat darem min of meer eetbaar is.
Ja, kos is ‘n voorreg in ‘n andersins honger wereld, maar dit is lekker as ‘n ander so nou en dan net saam kan beplan.
I❤my family
Advertisements