Hierdie tyd van die jaar voel dit letterlik of my longkapasiteit aan die afneem is. Dit is die tyd van die jaar waar ek elke jaar sal dink dit is die ergste jaar nog ooit.

Hierdie jaar is dit boonop nie net erg nie – dit is dan so skielik Oktober, sg mooiste maand. Ek raak bedruk as ek die winkels moet invaar en al die tinsel en crap om my sien. KOOP, KOOP, KOOP skree elke winkelrak uit.

Ek word in my spore gestop elke keer wat ek die datum neerskryf, dit kan nie wees nie,  dit was dan gister Januarie. Waar was ek tussen Januarie en Oktober?

Ek verstaan nie hoekom die tyd so vlieg nie, miskien is dit omdat ek ook al anderkant 50 is – ek verlang terug na laaaanngggg uitgerekte somersdae as kind, waar dit gevoel het of die dae nie einde het nie. Waar die dinge van die wereld nie gepla het nie. Of miskien is dit omdat ek weet hierdie lewe op aarde is nie vir altyd nie en ongeag wat, die dood word elke dag ‘n groter realiteit vir myself as gister. Oop grafte is nou meer op my agenda as troues.

Die lewe is kort en vinnig, as dit voel asof jy vasval in die rondslomp van sleurwerk en roetine dag na dag, geniet dit want net more is dit ook verby en wonder jy ook dalk waarheen is die tyd?

Miskien moet ek leer om elke maand ‘n dag weg te breek van die normale, net om asem te skep vir die maande waarin my longkapasiteit aan die afneem is en ek op die einde van die dag kan sê: hierdie jaar het my asem weggeslaan… ek is nie kortasem nie, ek is wel asemloos oor die goedheid en guns wat ek deur die jaar ervaar het, sonder dat ek dit eenkeer verdien het!

Tyd in hierdie aardse lewe is meer as kosbaar,  moenie onverskillig daarmee omgaan nie en moet dit nie op mense mors wat dit in elk geval nie sal waardeer nie. Wees jy in beheer van tyd en moet nie toelaat dat tyd jou baas word nie, die oomblik wat tyd jou baas is raak jy sy slaaf en kan niks meer op die ingewing van die oomblik gebeur nie. Ry ompaaie sonder om die tyd in ag te neem, dit mag jou lei die na onverwagse mooi van die lewe en so keer dat jy wonder wat het gebeur met die maande tussen Januarie en Oktober!!

 

 

Advertisements