Ek is redelik seker as mens 32 jr getroud is mag jy maar jou mond oor die huwelik rek.

Wel ek moet sê, vir my is en was  dit tot dusver een van die hardste take ooit. Dit verg deursettingsvermoë soos min, dit verg jou oog wegdraai in sekere situasies en jouself eerder blindhou as slimhou.

Die ergste is die “getrouheidsfaktor” wat so te sê onmoontlik is as jy dit in jou eie krag wil doen. Ek het geleer om in verhouding met die “Drie-Eenheid” te staan my beste verweer was om nie die pad byster te raak nie. My persoonlikheidstipe is van die soort wat baie gou verveeld raak en daarom het ek iets met gesag binne my nodig om my op die “straight en narrow” te hou. Nou waar sal mens ooit beter as die Heilige Gees kan kry om jou bewus te hou?

Vir my wat gedink het ek het my kinders lekker jonk gehad sodat ek later my lewe kan leef is die ontnugtering baie groot. Ek het besef daar is nie ‘n regte tyd om kinders te kry nie. Die beste is om jou maat vir ‘n hele paar jaar jou eie te maak, te “travel” en te ervaar en dan jou kinders te kry. As jy ‘n ma soos ek is, is jou hart net nooit ooit weer jou eie nie, is jou bekommernis oor jou kinders nooit ooit, nie meer nie – dit is so deel van jou lewe dat jy op die beste van tye sukkel om hulle uit jou gedagte wereld te kry. Als ten koste van die man waarmee ek my lewe deel. Mans het dit soveel makliker, hulle het die aan en af knoppie in hulself ontdek en skakel maklik af, VERAL as dit by hul volwasse kinders kom – maar ai ‘n ma, of die soort ma wat ek is, sukkel erg daarmee. En dit maak ook weereens die huwelik baie hardewerk vir my – hierdie liefde wat ek vir die man teenoor my se kinders het is baie groot.

Vandag na 32 jr en 1 dag se getroude lewe weet ek die raad wat ek aan alle toekomstige egpare gee is reg en altyd die volgende: GEE, GEE, GEE EN GEE WEER, MOET NIKS TERUG VERWAG NIE, DIE OOMBLIK WAT JY TERUGKRY GENIET DIT AS ‘N BONUS EN GEE DAN MAAR WEER!!!

Dit werk vir my en vrouens sorg dat jy jou man geniet voordat julle met ‘n gesin begin want daarna is niks ooit weer net joune nie, nie jou hart of jou verstand nie, nie jou pyn of jou geluk nie, want jou kinders se pyn raak joune en nooit ooit weer is jou eie pyn so groot soos die van jou kinders sin nie.

Ek kan getuig ‘n ma is so gelukkig soos wat haar ongelukkigste kind op ‘n spesifieke oomblik is en dit vat aan jou totale menswees – MAAR JA, DIT IS AS JY ‘N VROU EN ‘N MA SOOS EK IS!

DIE HUWELIK IS NIE KINDERSPELETJIE NIE!!!

Advertisements