Die lekkerste ding op aarde is die herinneringe aan verskillende reuke.

Die eerste reuk wat ‘n kind kry is die reuk van hul ma, ‘n reuk wat ‘n leeftyd se stories vertel. My ma se reuk was “oil of olay” in ‘n baie eenvoudige glasbotteltjie, is hoe ek dit in my geestesoog onthou. As kind, baie, baie mane gelede, onthou ek hoe graag ek in die aande teenaan my ma wou gaan sit net om haar reuk op my te kon kry, die pienk “oil of olay” reuk wat so eie aan haar was. Ek het haar menigte maal vertel, as hulle my moes blinddoek sal ek vir mamma tussen ‘n miljoen mammas kon uitsnuffel. Mamma en mamma se “oil of olay” kombersie. Vir jare en jare was dit deel van my sekuriteit, selfs in tye waar die lewe haar so stukkend verniel het, dat my hart wou breek,  was die reuk altyd teenwoordig waar sy ookal gegaan het… in ‘n glasbotteltjie met die pienk inhoud op haar verkreukelde gesig gesmeer.

Die dag wat mamma nie meer was nie en “oil of olay” se botteltjie lankal terug al plek gemaak het  vir ‘n potjie, het ek naarstigtelik geloop en soek na die kleinnood waaraan ek kon vasklou, ek het mamma se reuk nodig gehad, daar waar dit op my verweerde spieëlkas van haar ma, in my huis kon staan. Verniet, die potjies room het glad nie na my mamma geruik nie… en die pyn in my borskas groter.

Ek self is nou-al ouma van een en ma van ‘n volwasse dogter en seun, ek glo nie hulle koester dieselfde nostalgie rondom reuke as ek nie. In my stilligheid wonder ek of hulle my sou kon uitruik as hulle geblindoek moes wees, ek twyfel, want my reuk is soos die van ‘n verkleurmannetjie en is dieselfde as die gemoed waarin ek op ‘n spesifieke dag opstaan. Ek is gaande oor ‘n verskeidenheid reuke en sukkel om verby die parfuumrak te loop sonder ‘n toets spuitjie. Die duur Franse soort wat met ‘n prys kom en wat jou begroting sal laat tuimel. Ek het ‘n hele laai vol halfgebruikte bottels want elke geur voer my weg na ‘n spesifieke era in my lewe. Wek spesifieke herinneringe in my op.

Daar is reuke wat my walg van die oomblik wat ek swanger was met my eerste swangerskap, dit bring my terug en maak my van vooraf naar, presies soos toe ek swanger was, maak nie saak waar ek dit ruik nie, maar onmiddelik is ek terug in daai tyd van my lewe, ongemaklik en naar vir ‘n volle 9 maande.

Ek ruik my kinders se laerskool jare, leer, ink, papier en pritt, toe pritt nog soos pritt geruik het en nie  soos iets wat jy kan eet nie. Ek vang myself waar ek kort kort aan die buisie pritt by die werk ruik, net sodat ek weer op daai plek kan kom toe ek nog jonk, blond en dom was met my kinders en my lewe so eenvoudig normaal gevoel het. Dit so maklik was om hulle te beindruk met jou sg slimwees. Na ‘n sekere tyd van ma wees, weet ‘n ma mos niks meer nie, jy is dan net ‘n ma! Maar terugvoer kan die pritt buisie nie, want pritt ruik nie soos 20 plus jare terug nie.

My man ruik soos kruie, altyd skoongewaste kruie, as hy nie by die huis is nie sal ek myself vang waar ek aan sy klere gaan ruik, so veilige reuk selfs na 32jr se getroude lewe is dit so veilige lekker reuk. Met tye raak ek bang vir die idee, dat nes met my ma, dat hy ook net ‘n reuk gaan raak, soos so baie voor hom, net ‘n reuk vasgevang in die herinneringe van my kop en wat al hoe dowwer met tyd sal raak.

So het al my hartsmense hul eie reuk en voer daai spesifieke reuk my altyd terug na ‘n gegewe oomblik in my lewe en weet ek dat sonder die sintuig sou my lewe redelik saai gewees het.

 

 

Advertisements